Nuus 12:00
BULLETIN 12 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gesondheidsdepartement wil nog 200 bykomende verpleegkundiges aanstel
# Die hoof van die Verenigde Nasies hoop die skietstilstand tussen Indië en Pakistan sal blywende vrede en bestendigheid bring
# En ‘n deel van ‘n ruimtetuig uit die Sowjet-era is waarskynlik terug in die aarde se atmosfeer na ‘n halwe eeu
# Die Departement van Gesondheid sê hy wil in die komende maande nog 200 verpleegkundiges werf om werksladings te verlig en sorg te verbeter. Dis vandag Internasionale Verpleegkundedag. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die werwing van meer verpleegkundiges is deel van die Menslike-hulpbronstrategie vir Gesondheid vir 2030. Hy sê dit hou verband met die land se plan vir universele gesondheidsorg onder die Nasionale Gesondheidsversekering:
# Die DA eis dat die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, onmiddellik ‘n permanente direkteur-generaal vir die Departement van Militêre Veterane aanstel. Die pos wat vakant is sedert Irene Mpolweni bedank het, is verlede jaar geadverteer maar is steeds nie gevul nie. Maliyakhe Shelembe van die DA sê die vertraging om ʼn permanente direkteur-generaal aan te stel, dra by tot onbestendige bestuur in die departement:
# Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê hy hoop die skietstilstands-ooreenkoms tussen Indië en Pakistan sal tot blywende vrede bydra. Die skietstilstand is die naweek bereik ná toenemende botsings waarin albei kante missielaanvalle op mekaar se belangrike militêre basisse uitgevoer het. Guterres sê die ooreenkoms sal hopelik ‘n omgewing skep waar bestaande en groter kwessies tussen die twee lande aandag kan kry. Hy sê die VN is gereed om pogings te ondersteun wat vrede en bestendigheid in die streek sal bevorder.
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen Carlos Alcaraz is steeds op dreef om sy eerste Italiaanse Ope-titel te wen ná sy oorwinning oor Laslo Djere van Serwië vir ‘n plek onder die laaste-16. Die Spanjaard speel volgende teen die Rus Karen Khachanov, wat die Italiaanse gunsteling Francesco Passaro geklop het. Die verdedigende kampioen, Alexander Zverev van Duitsland, het die Litause kwalifiseerder Vilius Gaubas uitgeskakel. In die vroue-afdeling is die wêreld- nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, die Amerikaner Coco Gauff en die Rus Mirra Andreeva ook deur na die vierde ronde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-24-sent teen die dollar, 20-rand-28-sent teen die euro en 24-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-dollar-25-sent. Die prys van goud is drie-duisend-222-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-93-sent per vat.
# En ten slotte: Die Europese Ruimteagentskap sê ‘n gedeelte van ‘n ruimtetuig uit die Sowjet-era is waarskynlik terug in die aarde se atmosfeer na langer as ‘n halfeeu in ‘n wentelbaan. Die Kosmos 482, wat in 1972 op ‘n sending na Venus gelanseer is, het nooit tot buite die aarde se wentelbaan gevorder nie en in vier stukke gebreek wat sedertdien om die planeet wentel. Een stuk, vermoedelik die landingskapsule, het waarskynlik die naweek die atmosfeer binnegedring. Dit is onduidelik of dit die aarde se oppervlak bereik of in die atmosfeer uitgebrand het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….