Nuus 12:00
BULLETIN 9 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die voor-vonnisverrigtinge in die Joslin Smith-verhoor word uitgestel vir verdere raadpleging
# Die Kaapstadse hawe versnel vrugte-uitvoere voor Amerikaanse tariewe in werking tree
# En krieket: Die Pakistanse Superliga verskuif na die VAE weens spanning op die grens met Indië
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het die voor-vonnisverrigtinge in die Joslin Smith-verhoor tot die 23ste uitgestel vir verdere raadpleging. Die vermiste dogtertjie se ma, Kelly, Jacquen Appollis en Steveno van Rhyn is verlede week skuldig bevind aan ontvoering en mensehandel nadat die kind verlede jaar uit haar huis in Saldanhabaai verdwyn het. Daar heers steeds onsekerheid of die drie gaan getuig ter versagting van vonnis. Regter Nathan Erasmus sê nuwe inligting mag moontlik tydens die verrigtinge na vore kom:
# Die Kaapstadse hawe versnel vrugte-uitvoere na Amerika voor ‘n tarief van 30 persent op 9 Julie in werking tree. Uitstel van 90-dae bied tans ‘n verlaagde tarief van 10 persent, wat ‘n kritieke venster vir Suid-Afrikaanse uitvoerders bied. Om doeltreffendheid te verbeter, het die Kaapstadse Houerterminaal twee kragopwekkers van 500 kilovolt bygevoeg om vermoë te verhoog. Dié opgradering is daarop gemik om werkverliese en ekonomiese onbestendigheid te verminder in landelike gebiede wat van sitrusuitvoere afhanklik is.
# Die GOOD-party vra pous Leo die 14de om in die voetspore van sy voorgangers te loop deur geregtigheid, deernis en gelykheid te bevorder. Die 69-jarige Robert Prevost, wat in Chicago gebore is, is die eerste Amerikaner wat tot pous verkies word. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die pous neem die heilige verantwoordelikheid op hom om meer as ‘n miljard gelowiges met volle en oppergesag te lei in sake van geloof, moraliteit, kerkdissipline en bestuur:
# Krieket: Die agt oorblywende wedstryde van die Pakistanse Superliga is na die Verenigde Arabiese Emirate verskuif weens die toenemende spanning op die grens met Indië. Minstens 31 burgerlikes is dood en 46 gewond toe Indië Woensdag missielaanvalle uitgevoer het in Pakistan en dele van Kasjmir wat deur Pakistan geadministreer word. Volgens berigte het een hommeltuig nie reg gevuur nie, wat ‘n ontploffing naby die Rawalpindi-krieketstadion veroorsaak het. Die PSL se organiseeders sê hulle wil baie graag die toernooi voltooi, maar spelers se veiligheid word vooropgestel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-18-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 24-rand-10-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 103-duisend-765-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-323-dollar-87-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-45-sent per vat.
# En laastens, die Amerikaanse miljardêr Bill Gates het onderneem om bykans sy hele persoonlike rykdom oor die volgende twee dekades weg te gee. Hy sê die wêreld se armstes sal na raming 3,63-duisend-miljard-rand via sy stigting ontvang. Hy het ook die wêreld se rykste mens en sleutelrolspeler in president Donald Trump se administrasie, Elon Musk, daarvan beskuldig dat hy die wêreld se armste kinders benadeel deur besnoeiings aan Amerika se hulpbegroting. Gates en Musk het vroeër saamgestem oor rykes se rol om geld weg te gee, maar sedertdien al verskeie kere gebots.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….