Nuus 12:00
BULLETIN 8 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Britse hoëkommissariaat vra Malema om verskoning oor sy visumvertraging vir die Cambridge-konferensie
# Die bedrogsaak teen die OVK se ondervoorsitter word tot Julie uitgestel
# En rugby: Die Britse en Ierse Leeus se toergroep na Australië word vanmiddag aangekondig
# Die Britse hoëkommissariaat in Pretoria het die EFF-leier, Julius Malema, om verskoning gevra nadat sy Britse visum nie betyds verwerk is vir die naweek se konferensie by die Universiteit van Cambridge nie. Hoëkommissaris Antony Phillipson het standaardprosedures en onlangse Britse openbare vakansiedae aangehaal as redes vir die vertraging, terwyl Malema die land beskuldig van doelbewuste sabotasie. Die kommissie het aangebied om hom en sy span ten volle te vergoed en daarop gewys hy het nie gesag oor visumgoedkeurings nie.
# Die bedrogsaak teen die adjunkvoorsitter van die Verkiesingskommissie, Nomsa Masuku, en medebeskuldigdes Mark Roux en Ciniso Masuku is in die Johannesburgse Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof tot 9 Julie uitgestel. Die vertraging volg nadat Roux vertoë gelewer het. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê al die beskuldigdes se borgtog is verleng:
# Die DA in Gauteng vra die dringende opening van die aanlyn skooltoelatingstelsel vir 2026 om ‘n oponthoud met plasings te voorkom. Vanjaar is meer as ses-duisend leerders eers laat in Januarie geplaas. Sergio Isa dos Santos van die DA sê vroeë aansoeke sal ouers meer tyd gee, afwesigheid van skool verminder en deeglike beplanning moontlik maak. Hy sê hulle stel ‘n gebruikersvriendelike stelsel voor met meer ondersteuning en onmiddellike nasporing om toe te sien dat leerders betyds geplaas word.
# Rugby: Die toergroep van die Britse en Ierse Leeus sal vanmiddag tydens ’n spesiale seremonie in Londen aangekondig word. Hoofafrigter Andy Farrell gaan na verwagting ’n groep van 37 spelers aanwys vir die toer na Australië wat drie toetse teen die Wallabies en ses ander wedstryde insluit. Die Leeus het teen die Springbokke verloor met hul vorige toer in 2021 ná ’n gelykopuitslag teen die All Blacks in 2017. Hulle laaste reeksoorwinning was teen die Wallabies in 2013.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-26-sent teen die dollar, 20-rand-62-sent teen die euro en 24-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 99-duisend-564-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-341-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-31-sent per vat.
# En laastens, die Vryheidsfront Plus sê Afrikaans is ‘n kulturele en intellektuele taal wat beskerm moet word. Die erkenning van Afrikaans as ‘n amptelike taal in Suid-Afrika ‘n honderd jaar gelede word vandag herdenk. Die VF Plus se leier, Corné Mulder, sê ‘n kulturele, politieke en maatskaplike stryd wat dekades lank gestrek het en gewortel is in die strewe na Afrikaner-identiteit en selfbeskikking, het gelei tot die erkenning van Afrikaans as ‘n amptelike taal in 1925:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….