Nuus 12:00
BULLETIN 6 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ANC is sterk gekant teen DA se aansoek teen die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming
# Business Leadership SA sê die enigste weg vorentoe vir die begroting is om besteding te verminder
# En ‘n vrou bly in aanhouding ná haar verskyning oor brandstigting by Kelly Smith se huis
# Die ANC in die Parlement sê die DA se hofaansoek teen die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming is ‘n regstreekse aanval op die vordering wat gemaak is met die bou van ‘n regverdiger en billiker samelewing. Die Hooggeregshof in Pretoria hoor vandag die aansoek aan. Die party betoog die wet diskrimineer onbillik en ongrondwetlik. Die ANC se hoofsweep, Mdumiseni Ntuli, sê in die Wes-Kaap, waar die DA regeer, is die instelling van die wet aansienlik stadiger as dié van nasionale staatsdepartemente, wat die party se weerstand teen betekenisvolle verandering onderstreep.
# Business Leadership South Africa sê indien Suid-Afrika volhoubare openbare besteding wil bereik, sal hy moet groei om staatsinkomste uit te brei. Die minister van finansies, Enoch Godongwana, gaan die nasionale begroting die 21ste die derde keer in die Parlement voorlê. BLSA se uitvoerende hoof, Busiswe Mavuso, het aan Newzroom Afrika gesê hoewel dit goed is dat die begroting bevraagteken word, moet die regering die politieke moed hê om ongewilde besluite te neem:
# ‘n Vrou wat daarvan aangekla word dat sy die informele woning afgebrand het van ‘n ma van die Weskus wat skuldig bevind is aan die ontvoering en mensehandel van haar eie dogter, verskyn Maandag weer in die Landdroshof in Vredenburg vir haar borgtogverhoor. Monique Kekana woon ook in die Middelpos-nedersetting in Saldanhabaai waar Kelly Smith gewoon het voor sy in hegtenis geneem is vir die verdwyning van die sesjarige Joslin. Kekana bly in aanhouding. Die woning is Vrydag afgebrand, ure nadat Smith en haar twee medebeskuldigdes skuldig bevind is.
# Motorsport: Alpine se Formule Een-span oorweeg skynbaar om Jack Doohan uit die komende Emilia-Romagna Grand Prix op Imola in Italië te laat. Die 22-jarige groentjie het nog nie vanjaar enige punte behaal nie. Die Australiër is gedwing om aan die Miami Grand Prix te onttrek ná ‘n botsing met Liam Lawson van Racing Bulls. Pierre Gasly het ál Alpine se sewe punte tot dusver vanjaar aangeteken. Die reserwebestuurder, Franco Colapinto, sal Doohan volgens berigte vervang. Hy het verlede jaar in nege wedrenne vir Williams gejaag.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 24-rand-29-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-68-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-380-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 61-dollar-24-sent per vat.
# En laastens, sterre het die trappe van die Metropolitan Museum in New York bestyg vir die grootste aand in die modewêreld, die Met Gala. Vanjaar se tema is Superfine: Tailoring Black Style. Sommige van die noemenswaardige glanspersoonlikhede was Rihanna, wat ‘n Marc Jacobs-uitrusting gedra het, Simone Biles in ‘n blou Harbison Studio-rok, ‘n erkenning van die uitwerking van indigo in swart kultuur, en Ayo Edebiri se uitrusting, geïnspireer deur Nigeriese kultuur. Die Gala se medevoorsitter, Pharrell Williams, sê sy inspirasie is swart mans van die werkersklas:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….