Nuus 12:00
BULLETIN 5 Mei 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SANW-soldate se onttrekking uit die DRK sal die einde van die maand afgehandel wees
# Die Oos-Kaapse Departement Vervoer vra gesinne om te help met die uitkenning van slagoffers van ‘n dodelike botsing
# En ‘n gesamentlike gedenkdiens word gehou vir die Vrystaatse polisiebeamptes wat in die Hennopsrivier gesterf het
# Die hoof van die Weermag, Rudzani Maphwanya, sê die volledige onttrekking van Suid-Afrikaanse soldate aan die Demokratiese Republiek die Kongo sal teen die einde van die maand gefinaliseer wees. Hy sê veiligheidsmaatreëls is ingestel om ‘n gladde, stelselmatige proses te verseker na ‘n ooreenkoms met die M23-rebelle en die regering van die DRK. Maphwanya waarsku teen waninligting wat soldate in gevaar kan stel tydens die sensitiewe onttrekkingsfase:
# Die Oos-Kaapse polisie, in samewerking met die Departement van Vervoer, vra gesinne wie se naasbestaandes moontlik Saterdag van Qonce na Kaapstad gereis het, om na vore te kom om met identifisering te help. Dit volg op die dodelike botsing tussen ‘n minibustaxi en ‘n bakkie op die R63 naby Maqoma, Fort Beaufort, wat 15 lewens geëis het. Die departement se woordvoerder, Unathi Binqose, sê die slagoffers is in die plaaslike staatslykshuis:
# ‘n Gesamentlike gedenkdiens word môre in Bobbiespark, Bloemfontein, gehou vir drie Vrystaatse polisiekonstabels wie se liggame verlede week gevind is in die Hennopsrivier in Centurion, Gauteng. Boipelo Senoge, Cebekhulu Linda en Keamogetswe Buys het vermis geraak terwyl hulle van Bloemfontein na Limpopo gereis het vir hul ontplooiing in Operasie Vala Umgodi. Voorlopige ondersoeke dui daarop dat hul voertuig van die pad geloop en in die rivier beland het, en geen misdaad word vermoed nie. Hulle begrafnisse word individueel tussen Donderdag en Saterdag geskeduleer.
# Die Departement van Vervoer sê hy sal binnekort ‘n permanente oplossing aankondig vir die rybewys-drukker wat gereeld buite werking is. Woordvoerder Collen Msibi het aan SABC News gesê die departement gaan ook ‘n tydelike maatreël instel om die huidige agterstand te verlig. Die onderbrekings het frustrasie veroorsaak onder motoriste wat vir hul rybewyse wag. Msibi verseker die publiek dat hulle voorkeur daaraan gee om ‘n oplossing te vind.
# Gholf: Die wêreld se voorste speler, Scottie Scheffler, het oorheers om die Byron Nelson-toernooi in Texas te wen vir sy eerste sege vanjaar. Die Amerikaner het ‘n laaste ronde van agt-onder-baansyfer-63 aangeteken om op 31 onder klaar te maak – agt houe voor die Suid-Afrikaner Erik van Rooyen – vir sy 14de PGA-toertitel. Van Rooyen het Scheffler se 63 geëwenaar om op 23 onder baansyfer te eindig, drie houe voor die Amerikaner Sam Stevens. Scheffler was vol lof vir Van Rooyen:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 20-rand-77-sent teen die euro en 24-rand-36-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-554-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-271-dollar-48-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 60-dollar-1-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….