Nuus 12:00
BULLETIN 30 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu kritiseer die DA se aanval op die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming
# Bedrogvoorkomingsdiens waarsku verbruikers om te leer hoe om skelmstreke uit te ken
# En, Frankryk wil ‘n hanteringsfooi hef op pakkies van platforms soos Shein en Temu
# Cosatu sê hy is is ontsteld oor die DA se vals aanval op Gelyke Indiensneming. Die DA het ‘n hofaansoek ingedien wat die kwotas vir gelyke indiensneming in die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming betwis, wat volgens hulle bloot rasse-uitsluiting onder ‘n nuwe naam is. Die wet bepaal aanstellingskwotas vir ekonomiese sektore, insluitend mynbou en vervoer, die boubedryf en landbou. Cosatu se woordvoerder, Matthew Parks, sê hulle is vol vertroue dat die DA se aansoek van die hand gewys sal word:
# Die Suid-Afrikaanse Bedrogvoorkomingsdiens sê verbruikers kan hul kennis uitbrei oor hoe om ‘n skelmstreek te herken. Die organisasie het Yima bekendgestel in reaksie op die toenemende behoefte om proaktief op te tree om bedrog te voorkom. Elmi Kemp van die diens sê die metode wat gebruik word om teikens te bedrieg, is ʼn gesofistikeerde samesmelting van identiteitsbedrog, sosiale manipulering en kuberbedrog:
# ‘n Stroom van goedkoop goedere uit China, het daartoe gelei dat Frankryk ‘n hanteringsfooi wil hef op pakkies van aanlynverkopers. Die heffing sal help om die koste te dek van die nagaan van klein pakkies wat op platforms soos die Chinese firmas Temu en Shein bestel word. In 2024 het 4,6-miljard pakkies, elkeen met ‘n waarde van minder as een-duisend-200-rand, die EU binnegekom, met 91-persent daarvan uit China. Goedere van minder as een-duisend-200-rand, BTW uitgesluit, wat per pos gekoop en direk vanuit ‘n derde land gestuur word, is nie aan EU-invoerbelasting onderhewig nie.
# Sokker: Barcelona-ster Lamine Yamal sê hy fokus op homself en nie op vergelykings met Lionel Messi nie. Voor die Kampioeneliga-halfeindstryd teen Inter Milan vandag, het die 17-jarige ’n sleutelfiguur op die regterkant van die veld geword, waar Barca se top-doelskieter van alle tye, Messi vir baie jare gespeel het. Albei spelers het deur die jeugakademie van die klub gekom. Barcelona het laas die Kampioeneliga-eindstryd bereik met Messi aan die regterkant van die aanval en Yamal hoop om die Spaanse reuse dié seisoen weer daar te kry.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-63-sent teen die dollar, 21-rand-17-sent teen die euro en 24-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-595-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-286-dollar-88-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 62-dollar-13-sent per vat.
# En laastens: ʼn Nuwe studie toon slegs 9,5-persent van die 400-miljoen ton plastiek wêreldwyd het in 2022 van herwinde materiaal gekom. Die res is byna uitsluitend van fossielbrandstowwe soos steenkool en olie vervaardig. Herwinning bly laag met net 27,9-persent plastiekafval wat herwin word, terwyl 40-persent op stortingsterreine beland. China is die grootste vervaardiger en verbruiker van plastiek, maar Amerikaners gebruik die meeste plastiek per kop. Die Internasionale Wetlik Bindende Instrument oor plastiekbesoedeling word na verwagting later vanjaar afgehandel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….