Nuus 12:00
BULLETIN 25 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana publiseer die skrapping van die omstrede BTW-verhoging in die Staatskoerant
# Ondernemings skarrel om die BTW-verandering op hul stelsels om te keer
# En ‘n helikopter word ontplooi om veiligheid te verskerp in die Tafelberg Nasionale Park
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die Wetsontwerp op Tariewe en Monetêre Bedrae en Wysiging van Inkomstewet amptelik in die Staatskoerant gepubliseer. Die gewysigde wetgewing wat die BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte omkeer wat in Maart se begroting aangekondig is, moet steeds in die Parlement oorweeg word. Die skrapping laat ‘n fiskale tekort van 75-miljard-rand. Godongwana het aan die SABC gesê hy het die besluit geneem nadat die Parlement versoek het dat hy met politieke partye beraadslaag:
Baie Suid-Afrikaanse ondernemings skarrel intussen volgens berigte om die duur BTW-veranderings aan hul stelsels weer om te keer. Dit laat ondernemings wat in die opgradering van hul stelsels belê het, met vermorste uitgawes. News24 berig klein ondernemings word die swaarste getref deur die administratiewe las om prysstrukture en rekeningstelsels weer te verander terwyl groter korporasies met gevorderde toerusting dit makliker kan doen.
# SANParke het veiligheid in die Tafelberg Nasionale Park verskerp deur ‘n helikopter van die Krugerwildtuin te ontplooi. Die lug-ondersteuning is deel van SANParke se veiligheid- en sekerheidstrategie wat see-, lug- en bergspanne insluit. JP Louw van SANParks sê die helikopter dien as sigbare afskrikmiddel en verseker vinnige reaksie op moontlike bedreigings. Hy sê dis al bewys dat lugoperasies suksesvol is wanneer daar baie besoekers is soos tydens Paasfees, Kersfees en Nuwejaar:
# Sokker: SuperSport het aangekondig dat hy die uitsaairegte vir die Klubwêreldbekertoernooi bekom het vir Afrika suid van die Sahara. Die uitsaaier sal al 63 wedstryde regstreeks uitsaai. Die toernooi sal vanaf 14 Junie tot 13 Julie in Amerika plaasvind en sal die wêreld se 32 beste klubs insluit. Mamelodi Sundowns van Suid-Afrika is een van die vier spanne uit Afrika wat deelneem. Hulle is in Groep F ingedeel saam met Fluminense FC van Brasilië, Borussia Dortmund van Duitsland en Ulsan HD van Suid-Korea.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 21-rand-33-sent teen die euro en 24-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-697-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-294-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-55-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige Bafana Bafana-kaptein, Lucas Radebe, is as Leeds United se eerste wêreld-ambassadeur aangewys. Die 56-jarige het die Engelse sokkerspan van 1994 tot 2005 gelei en in 262 wedstryde gespeel. Sy aanwysing as wêreld-ambassadeur erken Radebe se reusebydrae to die klub en sy gemeenskapsleierskap. Leeds is van die 2025/26-seisoen deel van die Engelse Premierliga ná sy outomatiese bevordering vanaf die Kampioenskapskompetisie. Radebe sê om erkenning te kry vir sy bydra tot die verbetering van gemeenskappe is ‘n werklike prestasie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….