Nuus 12:00
BULLETIN 24 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# COPE sê die terugtrekking van die BTW-verhoging ontbloot gebreke in die regering se besluitnemingsproses
# ‘n Landbou-organisasie waarsku oor onrealistiese ras-gegronde indiensnemingsdoelwitte
# En ‘n polisieman van die Wes-Kaap word swaar gestraf vir die verkragting van ‘n tiener in die polisiestasie
# COPE het die terugtrekking van die voorgestelde verhoging op BTW geprys en sê dis ‘n oorwinning vir Suid-Afrikaners. Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het die verhoging van 0,5-persentasiepunte omgekeer ná raadpleging met verskeie politieke partye en aanbevelings van parlementêre komitees. Pakes Dikgesti van COPE sê hierdie ommekeer ontbloot gebreke in die regering se besluitnemingsproses:
Die Studenteforum erken intussen die pogings van die DA en die EFF wat die BTW-verhoging teengestaan het. Die forum se leier, Nhongo Solo, sê die land se leiers moet aanspreeklik bly teenoor die publiek, veral wat sake betref wat armes en studente onregverdig raak:
# Die landbou-organisasie TLU SA is bekommerd oor die regering se nuut-ingestelde diensbillikheids-regulasies wat rasgegronde aanstellingsteikens bekendstel. Die regulasies, wat van hierdie maand af geld, is daarop gerig om werkplek-verskeidenheid te verbeter deur die aantal swartmense, vroue en mense met gestremdhede in verskeie poste te verhoog. Bennie van Zyl van TLU sê egter dat die teikens nie by die werklikhede van die landbousektor pas nie en eerder op politieke as op praktiese behoeftes gegrond is:
# ‘n Voormalige polisiebeampte van Montagu in die Wes-Kaap is gevonnis tot 25-jaar tronkstraf vir die verkragting van ‘n tiener in ‘n traumakamer in 2016. Die meisie was 15-jaar-oud toe haar ma haar na die polisiestasie geneem het ná ‘n woordewisseling by die huis om die polisie te vra om die kind te kalmeer. Frederick Soldaat, tans 64, het die meisie verkrag en sy het haar ma die volgende dag vertel. Die staat sê Soldaat het ‘n ruimte waar slagoffers moes veilig wees, in sy eie persoonlike misdaadtoneel omskep.
# Tennis: Gael Monfils van Frankryk het die Kroatiese kwalifiseerder, Borna Gojo, geklop om sy eerste Madridse Ope-wedstryd sedert 2022 te wen. Die 38-jarige, wat die oudste wedstrydwenner in die toernooi se geskiedenis is, speel in die tweede ronde teen die Rus Andrey Rublev. In die vroueafdeling het die Britse nommer twee, Emma Raducanu, ʼn welverdiende sege oor die Nederlander, Suzan Lamens, behaal. Die tweemalige Wimbledon-kampioen van Tsjeggië, Petra Kvitova, het haar vierde agtereenvolgende nederlaag gely toe sy teen die Amerikaner, Katie Volynets, verloor het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 21-rand-18-sent teen die euro en 24-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-135-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-332-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….