Nuus 12:00
BULLETIN 22 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Oekraïne vra Suid-Afrika om Zelensky se besoek en insluiting in G20-beraad te steun
# Die EFF sê pous Franciskus was ’n stem vir morele duidelikheid
# En tennis: Alcaraz het hernude respek vir Nadal weens die moordende kleibaan-seisoen
# Oekraïne se ambassadeur in Suid-Afrika, Liubov Abravitova, vra Suid-Afrikaners om president Volodimir Zelensky se staatsbesoek Donderdag te ondersteun. Dit volg ná president Cyril Ramaphosa se formele uitnodiging aan Zelensky en sy deelname aan die komende G20-leiersberaad. Abravitova sê Suid-Afrika se leierskap van die G20 sal onvolledig wees sonder om Oekraïne te betrek en pogings tot ‘n regverdige en volhoubare vrede te ondersteun. Sy sê dit is noodsaaklik om Rusland se inval te veroordeel en die Oekraïne se insluiting in wêreldwye vredesonderhandelings te verseker.
# Die EFF sê pous Franciskus was ‘n groot kampvegter vir die regte van vlugtelinge en migrante, en het nasies aangemoedig om hul grense en harte oop te gooi vir mense wat vlug van oorlog en ekonomiese wanhoop. Die 88-jarige Argentyn is gisteroggend aan ʼn beroerte en hartversaking dood. Die EFF se woordvoerder, Sinawo Thambo, sê die Pous het sedert sy verkiesing in Maart 2013 ʼn stem vir morele duidelikheid geword in ʼn era van toenemende ongelykheid, konflik en ekonomiese uitbuiting:
Die Verenigde Nasies se sekretaris-generaal, António Guterres, sê intussen Franciskus was ʼn voortreflike stem vir vrede, menswaardigheid en maatskaplike geregtigheid. Hy het by die wêreld aangesluit om oor die pous se dood te rou en sê sy nalatenskap sluit geloof, diens en deernis vir almal in:
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje het opnuut respek gekry vir sy beroemde landgenoot, Rafael Nadal, tydens Europa se moordende kleibaanseisoen. Die wêreld-nommer-twee het teen die Deen Holger Rune verloor in die eindstryd van die Bacelona-ope nadat hy verlede week die Monte-Carlo-meesterstoernooi gewen het. Alcaraz gaan ook dié week aan nog ‘n toernooi in sy vaderland deelneem – die Madridse Ope. Die kleibaanseisoen sluit af met die Franse Ope, wat Nadal ‘n rekord-14 keer gewen het. Alcaraz sê dis moeilik om binne dae by ‘n volgende toernooi aan te pas.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 21-rand-40-sent teen die euro en 24-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-633-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-468-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-39-sent per vat.
# En laastens, dis vandag Wêreld-Aardedag en die tema is: Ons Krag, Ons Planeet. Die wêreld word aangemoedig om rondom hernubare energie te verenig om teen 2030 skoon elektrisiteit te verdriedubbel. Aardedag word wêreldwyd in meer as 192 erken en gevier. Aardedag se president, Kathleen Rogers, sê terwyl omgewingsuitdagings en -geleenthede vinnig verander, gaan Aardedag voort om individue, organisasies en regerings rondom ʼn gedeelde doelwit te verenig: om betekenisvolle optrede vir die planeet te bevorder.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….