Nuus 12:00
BULLETIN 15 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die GOOD-party verwelkom die langverwagte aanspreeklikheid vir apartheidsmisdade
# Die regering maan landsburgers om tydens Paasnaweek voorkeur te gee aan padveiligheid
# En ‘n Johannesburgse kleuterskoolonderwyseres pleit onskuldig aan die moord en verkragting van haar kêrel se dogtertjie
# Die GOOD-party verwelkom die langverwagte stukrag in die soeke na aanspreeklikheid vir apartheidsmisdade. Die Nasionale Vervolgingsgesag het die geregtelike ondersoeke na die dood van hoofman Albert Luthuli en Griffiths Mxenge heropen. In ‘n ander saak het die Hooggeregshof in Gauteng beslis dat twee gewese polisielede uit die apartheidstyd vir misdade teen die mensdom vervolg mag word. GOOD se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê apartheid is in 1973 reeds tot midaad teen die mensdom verklaar:
# Die regering waarsku landsburgers om padveiligheid voorop te stel met die Paasnaweek wat voorlê. Altesaam 335 sterftes is tydens verlede jaar se Paasnaweek aangemeld teenoor 252 in 2023. ‘n Woordvoerder van die Regerings- Kommunikasie- en Inligtingstelsel, Nokululeko Mtshali, sê die regering het die Paasnaweek-padveiligheidsveldtog verlede maand bekendgestel as deel van sy Padveiligheidsprogram van 365 dae:
# Die kleuterskoolonderwyseres Amber Lee Hughes het onskuldig gepleit op aanklagte van verkragting en moord in die Hooggeregshof in Johannesburg. Sy word aangekla dat sy haar kêrel se vierjarige dogtertjie wat ‘n leerder in haar klas was, Nada-Jane Challita, in Januarie 2023 seksueel aangerand en vermoor het. Die streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Phindi Mjonondwane, sê die hof het gehoor dat Hughes in ‘n verhouding met die kind se pa was en by hulle ingetrek het, met spanning wat skynbaar tot dreigemente teen die kind gelei het.
# Namibië se president, Netumbo Nandi-Ndaitwah, wil ‘n kernkrag-aanleg in haar land laat bou. Dit volg ná haar onlangse vergadering met die Russiese adjunk-president, Yury Trutnev, oor moontlike samewerking rakende kernkrag. Nandi-Ndaitwah sê Namibië benodig ‘n mengsel van betroubare, skoon energie om die ekonomie te laat groei en die inwoners uit armoede op te hef. Die Suid-Afrikaanse energiekenner, Chris Yelland, sê lande met ‘n lae vraag na elektrisiteit behoort nie een groot kernkrag-reaktor te hê nie:
# Rugby: Die Nieu-Seelandse vleuel Mark Tele’a gaan die Blues die einde van die seisoen vir Japan verruil, wat beteken hy kan nie volgende jaar vir die All Blacks speel nie. Hy sal volgens berigte by Toyota Verblitz aansluit wat deur die gewese Nieu-Seelande hoofafrigters Steve Hansen en Ian Foster gebrei word. Tele’a het 13 drieë vir die All Blacks gedruk in 19 toetse en was in 2023 Wêreldrugby se Deurbraakspeler van die Jaar. Nieu-Seeland verbied spelers sonder plaaslike kontrakte om vir die All Blacks te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 21-rand-32-sent teen die euro en 24-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-962-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-229-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….