Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dring aan die Menseregtekommissie moet die SASSA-ondersoek afhandel
# AfriForum gaan voort met sy skoonmaak-veldtog in Pretoria-Noord
# En, krieket: Die bohaai oor David Teeger se verwydering as kaptein kring uit
# Die DA sê hy het ‘n vorderingsverslag van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie versoek oor sy ondersoek na die volgehoue krisis wat SASSA se uitbetaling van maatskaplike toelaes betref. Die party het verlede jaar ʼn amptelike klagte by die kommissie ingedien nadat ʼn reeks toelaes nie uitbetaal is nie, wat kwesbare ontvangers negatief geraak het. Bridget Masango van die DA sê dis kommerwekkend dat die jongste mislukking om toelaes te betaal 150-duisend begunstigdes sonder hulle Januarie-geld gelaat het:
# AfriForum in die noorde van Gauteng sê hy sal vanjaar voortgaan met sy skoonmaakveldtog in Pretoria-Noord. Die organisasie het verlede week begin om parke, insluitend Jopie Fourie-park, skoon te maak deur vullis te verwyder, gras te sny, boomtakke af te saag en stortingsterreine op te ruim, sodat die parke weer toeganklik en veilig kan wees. AfriForum sê hulle doel is ʼn beter en skoner omgewing en hulle sal voortgaan om skoon te maak op plekke waar die Stad Tshwane nie kan uitkom nie.
# Die eThekwini-munisipaliteit het alle strande in die noorde en sommige in die suide tot verdere kennisgewing gesluit. Dit volg nadat swaar reën oor die naweek die watergehalte in die streek nadelig beïnvloed het. KwaZulu-Natal se Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se woordvoerder, Siboniso Mngadi, sê die swaar neerslae het gebiede oorstroom en opdrifsels is in riviere en na die see gespoel:
# Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens het ‘n strafregtelike saak teen die Soedannese sakeman Hazim Mustafa aanhangig gemaak. Hy het in Desember 2019 20 buffels vir 10,82-miljoen-rand kontant gekoop op president Cyril Ramaphosa se plaas in Limpopo, Phala Phala. Ramaphosa het gesê dit was Mustafa se geld wat in Februarie 2020 op sy plaas gesteel is. Volgens News24 berus die saak op ʼn dokument, vermoedelik ʼn afskrif van die verklaring van buitelandse valuta, wat Mustafa aan die polisie en Inkomstediens gegee het. Die vermoede bestaan dat die dokument vals is.
# Krieket: Die DA dreig om Krieket Suid-Afrika by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie te verkla as die kaptein van die Onder-19-span, David Teeger, nie voor die Wêreldbekertoernooi heraangestel word nie. Teeger is uit die posisie onthef weens vrese dat betogers hom kan teiken oor sy pro-Israelse standpunt. Teeger is verlede maand onskuldig bevind aan wanoptrede nadat hy Israelse soldate by ‘n toekenningsgeleentheid geloof het. Die DA hou vol sy verwydering verbreek die Handves van Regte, en beskou die besluit as ondeurdag. Die Wêreldbekertoernooi begin Vrydag.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 20-rand-45-sent teen die euro en 23-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-702-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-55-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….