Nuus 12:00
BULLETIN 14 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA steek die ANC die eerste keer verby in ‘n openbare meningspeiling
# Die ANC sê die geregtelike ondersoek na die dood van hoofman Luthuli en Mxenge is ‘n stap na geregtigheid
# En die beheerde vrylating van water uit die Vaal- en die Bloemhofdam gaan voort
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die DA het die ANC die eerste keer verbygesteek in sy openbare meningspeiling. Die DA het 30,3-persent steun en die ANC 29,7, met die begrotingsvoorstel om BTW te verhoog wat aansienlik tot hierdie verskuiwing bygedra het. Die IRV sê die DA se steun onder swart kiesers het van vyf- tot 18-persent gestyg, wat die politieke potensiaal vir die party toon om sy steun oor tradisionele grense heen te laat groei. Die volledige uitslae van die peiling sal môre bekend gemaak word.
# Die heropende geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheidsaktivis en wenner van die Nobelprys vir Vrede, hoofman Albert Luthuli, en die anti-apartheids-regspraktisyn, Griffiths Mxenge, begin vandag in die Hooggeregshof in Pietermaritzburg. ‘n Ondersoek het in 1967 bevind Luthuli het op ‘n spoorlyn geloop toe ‘n trein hom doodgery het. Mxenge is in 1981 doodgesteek. Die ANC in KwaZulu-Natal se provinsiale sameroeper, Jeff Radebe, sê die ondersoek is ‘n stap na geregtigheid en aanspreeklikheid en moes lankal gebeur het:
# Die Departement van Water en Sanitasie sê hy gaan voort met die beheerde vrylating van water uit die Vaal- en die Bloemhofdam om stygende watervlakke te verlaag. Die uitvloei van water uit die Bloemhofdam het tot 104,96-persent afgeneem. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê vyf van die Vaaldam se sluise bly oop:
# Motorsport: Die sesmalige MotoGP-wêreldkampioen, Marc Marquez, het sy voorsprong in die bestuurders-kampioenskap vergroot toe hy die Katarse Grand Prix gewen het. Die Ducati-ryer het met Maverick Vinales van Red Bull KTM Tech3 en Franco Morbidelli van VR46 Racing afgereken. Die Suid-Afrikaner Brad Binder het 13de geëindig op sy Red Bull KTM. Marquez het nou ‘n voorsprong van 17 punte en sê hy is bly om die eerste keer sedert 2014 in Katar te wen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-91-sent teen die dollar, 21-rand-56-sent teen die euro en 24-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-517-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-218-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-38-sent per vat.
# En laastens, die kindervriendelike rolprent A Minecraft Movie is in die tweede week na sy vrystelling steeds die wêreld se nommer-een-lokettreffer. Die rolprent met die akteurs Jack Black en Jason Momoa in die hoofrolle is reeds die grootste geldmaker van die jaar. Die geloofsgebaseerde gesinstekenprent van Angel Studios, King of Kings, is tweede, gevolg deur 20th Century en Disney se spioenasieriller, The Amateur, met Rami Malek in die hoofrol. A24 se Warfare is in die vierde plek met Universal en Blumhouse se gruwelrolprent, Drop, vyfde.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….