Nuus 12:00
BULLETIN 11 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vereniging van Staatsamptenare waarsku oor politieke sabotasie in wetstoepassingsinstellings
# ‘n Kenner sê die waterbesoedelingskrisis sal nie verdwyn as munisipale bestuurders tronk toe gaan nie
# En oud-hoofregter Raymond Zondo ontvang ‘n ere-doktorsgraad van Kovsies
# Die Vereniging van Staatsamptenare waarsku oor die voortgesette afbreking van openbare vertroue in wetstoepassings-instellings weens beweerde politieke sabotasie. Hy sê dit hou verwoestende gevolge in vir bestuur, aanspreeklikheid en dienslewering. Claude Naiker van die vereniging sê die beskuldiging dat die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, na bewering ‘n tronkbewaarder wat dwelms verkoop, beskerm het, is in die openbaar as doelbewuste leuen ontbloot. Hy sê die bewering was nie op feite gegrond nie, maar op faksie-politiek en pogings om ʼn onverskrokke en etiese leier te beswadder:
# UNISA se waterkenner, Anja du Plessis, sê dit sal nie Suid-Afrika se waterbesoedelingskrisis oplos as munisipale bestuurders tronk toe gaan nie. ʼn Klousule in die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Water laat toe dat munisipale bestuurders en korporatiewe direkteure skuldig bevind kan word en moontlik tronkstraf kry indien die instellings wat hulle verteenwoordig water besoedel. Volgens inligting stort ʼn derde van munisipaliteite onverwerkte riool in riviere en dit bedreig ekostelsels. Du Plessis sê strenger toepassing van omgewingswette is nodig om besoedeling te keer.
# Die Russies-Amerikaanse vrou Ksenia Karelina se Suid-Afrikaanse kêrel, Chris van Heerden, het president Donald Trump bedank vir sy rol in haar vrylating. Karelina is in Rusland 12-jaar tronkstraf opgelê vir hoogverraad, maar is gister vrygelaat as deel van ‘n gevangene-uitruiltransaksie tussen Amerika en Rusland. Van Heerden is ‘n voormalige bokskampioen en Karelina se saak is aangevuur deur die rolprentregisseur, Peter Berg, en die uitvoerende hoof van die Ultimate Fighting Championship, Dana White, wat dit aan Trump oorgedra het. Volgens bronne het Trump die saak hierna voorkeur gegee.
# Atletiek: Ses-en-dertig atlete sal Suid-Afrika môre in Gaborone verteenwoordig op Botswana se Goue Grand Prix-byeenkoms. Atlete van 30 lande sal deelneem. Die Suid-Afrikaanse-rekordhouer in die 100-meter vir mans, Akani Simbine, sal meeding met die Afrika-rekordhouer, Ferdinand Omanyala van Kenia, terwyl drie ander Suid-Afrikaanse-naellopers, Benjamin Richardson, Tsebo Matsoso en Karabo Letebele, ook sal deelneem. Die voormalige deelnemer aan die eindronde op die Wêreldkampioenskap, Luxolo Adams van Suid-Afrika, sal die plaaslike Olimpiese kampioen, Tetsile Tebogo, in die 200-meter aandurf.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-38-sent teen die dollar, 22-rand-5-sent teen die euro en 25-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-248-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-218-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-11-sent per vat.
# En ten slotte: Oud-hoofregter Raymond Zondo het ‘n eredoktorsgraad in die Regte van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit van die Vrystaat ontvang. Die graad word toegeken op grond van uitsonderlike prestasies en ander prestasies ingevolge die universiteit se ideale en beginsels. Zondo het in sy aanvaardingstoespraak bemoedigende woorde gehad vir die gegradueerdes en hul ouers:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….