Nuus 12:00
BULLETIN 10 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Green Connection vra die regering om alle fossielbrandstofprojekte te staak
# Die geregtelike ondersoek na die dood van hoofman Albert Luthuli en Griffiths Mxenge word heropen
# En duisende miljoenêrs het verlede jaar padgegee uit Londen
# The Green Connection en Natural Justice het amptelik beswaar aangeteken teen olie- en gas-opnames in Blok 9 en 11B/12B van die Outeniekwa-kom in die Wes-Kaap. Die organisasies voer aan die ondersoeke, ontwikkeling en stroomaf-gebruik van olie- en gasbronne sal onaanvaarbare hoeveelhede kweekhuisgasse vrystel. The Green Connection se woordvoerder, Liz McDaid, sê om klimaatsverandering te bekamp, moet die regering alle nuwe fossielbrandstofprojekte staak:
# KwaZulu-Natalse se direkteur van Openbare Vervolging, Elaine Harrison, gaan die geregtelike ondersoek na die dood van die ANC-president, hoofman Albert Luthuli, en die anti-apartheidsaktivis en prokureur, Griffiths Mxenge, heropen. Luthuli, wat in 1960 die Nobelprys vir Vrede ontvang het, is in Julie 1967 dood. Volgens die amptelike verslag is hy by Groutville in KwaZulu-Natal deur ‘n trein getref. Die NVG se woordvoerder, Natasha Ramkisson-Kara, sê Mxenge se liggaam is in November 1981 op ‘n sportveld in Umlazi gevind:
# United Africans Transformation sê hy is geskok en hartseer oor nog ‘n mislukking van die regering van nasionale eenheid om die mees basiese regte van Suid-Afrikaanse kinders te beskerm. Dit volg nadat die Departement van Basiese Onderwys die sperdatum van 31 Maart misgeloop het waarop alle puttoilette in die land vervang sou wees. UAT se woordvoerder, Mighty Mabule, sê daar is ʼn gebrek aan politieke wil om hierdie doel te bereik:
# Gholf: Die verdedigende Meesters-kampioen, Scottie Scheffler, speel saam met sy Amerikaanse landgenoot Justin Thomas en die Spanjaard Jose Luis Ballester wanneer die eerste major-toernooi van die jaar vandag op Augusta in Georgia afslaan. Rory McIlroy van Noord-Ierland wat probeer om die sesde man te word om ʼn loopbaan-Grand Slam te voltooi, is in dieselfde groep as Ludvig Aberg van Swede en die Amerikaner Akshay Bhatia. Drie Suid-Afrikaners is onder die 95 deelnemers: die voormalige kampioen, Charl Schwartzel, Christiaan Bezuidenhout en Thriston Lawrence.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-41-sent teen die dollar, 21-rand-40-sent teen die euro en 24-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 81-duisend-658-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-112-dollar-21-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-53-sent per vat.
# En laastens, duisende miljoenêrs het die afgelope jaar uit Londen padgegee en van hulle het verhuis na die Verenigde State of Asië. Die uittog het ‘n dekade-lange neiging voortgesit wat toegeskryf word aan belastingverhogings, die versuim om te herstel ná 2008 se finansiële krisis en Brittanje se bitter uittrede uit die Europese Unie. Die jaarlikse World’s Wealthiest Cities-verslag, gepubliseer deur Henley & Partners en die data-intelligensiemaatskappy New World Wealth, het bevind sowat 11-duisend-300 dollar-miljoenêrs het Londen verlede jaar verlaat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….