Nuus 12:00
BULLETIN 7 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ANC se nasionale werkskomitee vergader oor die toekoms van die regering van nasionale eenheid
# Die VF Plus sê dis onbillik om die indiensnemingskontrakte van Gautengse dokters te beëindig
# En die Maselspoortdam in die Vrystaat bereik ‘n gevaarlike vlak
# Die ANC se nasionale werkskomitee vergader vandag om die pad vorentoe te bespreek wat die regering van nasionale eenheid betref. Die verhouding tussen die twee grootste partye in die koalisieregering, die ANC en die DA, is gespanne nadat die DA verlede week teen die aanvaarding van die fiskale raamwerk gestem het. Adjunkpresident Paul Mashatile sê die DA se rol in die koalisieregering moet nie oorskat word nie en alle partye moet saamwerk ingevolge die verklaring van voorneme.
# Lede van die Nasionale Vergadering se kiesafdelings-werk begin van vandag tot die 17de van die maand. Dit vorm deel van die sewende Parlement se rotasiebenadering, wat komitee-toesig, kiesafdelingbetrokkenheid en volledige sittings insluit. Die kiesafdelings-tydperk laat LP’s toe om regstreeks met gemeenskappe te skakel, en verseker dus sinvolle interaksie. Elke lid sal hul kiesafdelingskantore gebruik om skakeling te bevorder en plaaslike kwessies aan te pak.
# Die Vryheidsfront Plus in Tshwane sê dit is onbillik en kortsigtig van die Gautengse Departement van Gesondheid om die kontrakte van alle dokters wat in diens was van die metro se Gesondheidsdepartement op 31 Maart te beëindig. Die dokters was almal deel van die Nasionale Gesondheidsversekering se proefprogram. Rina Marx van die VF Plus sê hulle sal verseker die regte van dokters en pasiënte word beskerm:
# Die Maselspoortdam naby Bloemfontein in die Vrystaat het ‘n gevaarlike vlak bereik ná swaar reën oornag. Die Mangaung-metro waarsku inwoners en ondernemings stroomaf van die Mockesdam in die Modderrivier om hul roerende bates na hoër grondgebied te verskuif. Woordvoerder Qondile Khedama het aanbeveel dat watervlakke gemonitor en voorberei word vir moontlike ontruiming. Inwoners moet ook versigtig wees vir bome en kragdrade wat omgeval het en motoriste word versoek om nie te ry deur gebiede wat verspoel is nie.
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Carlos Alcaraz, is tevrede met die manier waarop hy tot dusver die seisoen speel. Dit is ondanks die Spanjaard se nederlaag in die halfeindronde van die Indian Wells Ope, en nadat hy onverwags in die eerste ronde van die Miami Ope uitgeskakel is. Die eerste toernooi van die Europese kleibaanseisoen begin hierdie week in Monte Carlo. Alcaraz sê hy voel goed en sien uit daarna om goed te vaar in die meesterstoernooi:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-37-sent teen die dollar, 21-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-94-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 76-duisend-211-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-25-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….