Nuus 12:00
BULLETIN 4 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Chikunga sê DNS toetse moet na buite die skoolgronde uitgebrei word in die Matatiele-verkragting saak
# VF Plus is bekommerd oor konsepregulasies rakende die privaat sekerheidsbedryf
# En, ‘n Amerikaanse kongreslid wil Suid-Afrika aanspreeklik hou vir steun aan die VSA se teenstanders
# Die minister van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, sê DNS-toetse in die ondersoek van die verkragting van ‘n sewe-jarige meisie van Bergview Kollege, in Matatiele, in die Oos-Kaap, moet verder uitbrei as net die skoolgronde. Die minister se kommentaar kom te midde van wydverspreide openbare woede en oproepe vir geregtigheid. Chikunga het kommer uitgespreek dat dit moontlik nie ‘n geïsoleerde insident was nie:
# Die Vryheidsfront Plus sê die konsepregulasies oor die besit en gebruik van vuurwapens in die Suid-Afrikaanse sekerheidsbedryf sal landsburgers meer blootstel aan misdaad. Die regulasies is verlede week gepubliseer. Die land se sekerheidsbedryf het in 2023 sowat 2,56-miljoen geregistreerde sekerheidswagte gehad met 586-duisend wat by meer as 12-duisend maatskappye in diens was. Die VF Plus-woordvoerder, Heloïse Denner, sê in teenstelling daarmee het die polisiemag in 2023 slegs 180-duisend lede gehad:
# ‘n Kongreslid van die Republikeinse Party, Ronny Jackson, het die Wet op Bilaterale Verhoudings tussen Amerika en Suid-Afrika her-ingedien wat ‘n volledige hersiening is van die wedersydse verhouding tussen die twee lande. Hy sê Suid-Afrika het sy verhouding met Amerika op uitdagende wyse opgeskort om verhoudings met China, Rusland, Iran en terroristiese organisasies aan te knoop, ‘n verraderlike stap wat ernstige gevolge het. Jackson sê die hersiening sal help om president Donald Trump se buitelandse beleidsagenda te bevorder. Hy voeg by die era van regerings wat Amerikaanse belange ondermyn sonder gevolge, eindig nou.
# Motorsport: Die voorloper op die Formule Een-kampioenskapspunteleer, Lando Norris van Brittanje, glo dis vanjaar sy McLaren-span se beurt om die beste motor te hê. Hy het die eerste Grand Prix in Australië gewen en sy Australiese spanmaat, Oscar Piastri, die tweede in Shanghai, China, terwyl Norris tweede was. Norris sê McLaren is nou vinniger as Red Bull, wie se Nederlandse renjaer, Max Verstappen, die afgelope vier jaar wêreldkampioen was. Norris is van plan om McLaren se oorheersing die naweek te bewys in die Japannese Grand Prix in Suzuka.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-4-sent teen die dollar, 20-rand-95-sent teen die euro en 24-rand-77-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-483-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-85-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 68-dollar-18-sent per vat.
# En laastens, dis vandag Internasionale Worteldag waarop die bevordering en gebruik van dié groente gevier en mense bewus gemaak word van sy gesondheidsvoordele. Die dag het in Swede ontstaan en word vandag wêreldwyd gevier wanneer mense saamkom om hulle liefde vir hierdie besondere wortelgroente te deel. Interessante feite oor wortels sluit in dat daar meer as 100 eetbare spesies is, dis die groente wat die meeste vitamien A bevat, en 87-persent van die wortel is water.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….