Nuus 12:00
BULLETIN 1 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Openbare Werke se beraad gaan infrastruktuurkrisis in Suid-Afrika aanpak
# Wes-Kaapse munisipaliteite kan volgende jaar ‘n toename in koalisieregerings ondervind
# En Nasa se ruimtevaarders sê dit was moeilik om weer op aarde aan te pas na nege maande
# Die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson,bied vandag die eerste Openbare Werke en Infrastruktuur-beraad aan in Sandton, Johannesburg. Die tema is om Suid-Afrika in ‘n bouterrein te omskep, en die geleentheid sal aandag skenk aan Suid-Afrika se verswakkende infrastruktuur wat ekonomiese groei en beleggersvertroue belemmer. Sleutelonderwerpe sluit in onderbelegging, swak instandhouding en projekvertragings, met die fokus op die herlewing van infrastruktuur om ekonomiese groei te bevorder.
# Die Wes-Kaap kan ná volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing ‘n toename in munisipale koalisieregerings beleef. Dié neiging word beïnvloed deur die vorming van die regering van nasionale eenheid. In die vorige verkiesing in 2021 was daar in 16 uit 30 munisipaliteite in die provinsie geen volstrekte meerderheid nie. Partye soos ActionSA het laat blyk hulle is gereed om koalisies te vorm. News24 berig hierdie ontwikkeling dui op ʼn verskuiwing na samewerkende regering in die Wes-Kaapse munisipale landskap.
# Die Pretoriase Landdroshof het ʼn 38-jarige hawelose man tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die moord op sy swanger meisie. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Lumka Mahanjana, sê die paartjie, wat gereeld op die hoek van Park- en Wessels-straat in Sunnyside gebly het, het in Desember 2023 ʼn rusie gehad wat tot geweld gelei het. Sy sê Trevor Nolan het Monica Matrose talle kere met ʼn mes gesteek voor hy van die toneel gevlug het, maar is twee dae later aangekeer:
# Rugby: Nieu-Seeland Rugby en Ineos het hul twis oor ‘n borgskaps-kontrak bygelê. Die Britse chemiese reus is daarvan beskuldig dat hy die ooreenkoms oor sy kontrak van ses jaar geskend het. Die maatskappy van die miljardêr Jim Ratcliffe het volgens berigte sonder meer sy groot kontrak drie jaar vroeg opgeskort en nie vanjaar se eerste betaling gemaak nie. Albei partye sê hulle is tevrede met die uitkoms, terwyl die besonderhede daarvan vertroulik bly.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-823-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-132-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 74-dollar-27-sent per vat.
# En laastens, die NASA-ruimtevaarders wat op die Internasionale Ruimtestasie gestrand was, sê dit was vreemd om weer by die lewe op aarde aan te pas. Butch Wilmore en Suni Williams se sending sou agt dae duur, maar hulle moes uiteindelik nege maande bly nadat hulle Boeing Starliner tegniese probleme ontwikkel het. Hulle het uiteindelik op 19 Maart op die SpaceX Dragon teruggekeer. Williams het die eerste keer met die media gepraat en sê hulle het nooit gevoel hulle is vasgekeer nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….