Nuus 12:00
BULLETIN 28 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die kabinet vertrou die land se ekonomiese veerkragtigheid te midde van nuwe beleggingsgeleenthede
# Die DA in Gauteng sê premier Lesufi moet die LUR vir Gesondheid afdank na die hofuitspraak oor kankerbehandeling
# En Trump se tariewe op ingevoerde voertuie en onderdele word sterk veroordeel terwyl die handelsoorlog verdiep
# Die kabinet het vertroue uitgespreek in Suid-Afrika se ekonomiese veerkragtigheid, en verwys na nuwe beleggingsplanne wat groei kan stimuleer. Die regering gee ook voorkeur aan die betrokkenheid van die privaat sektor in sleutelgebiede soos energie, infrastruktuur en logistiek om ekonomiese herstel en langtermyn-ontwikkeling te verbeter. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê die regering ondersteun die Google Cloud-belegging van 2,5-miljard-rand wat daarop gemik is om digitale dienste te verbeter en werksgeleenthede te skep:
# Die DA in Gauteng eis dat premier Panyaza Lesufi die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, en departementshoof Lesiba Malotana afdank. Dit volg op die Gautengse Hooggeregshof se uitspraak dat die departement se versuim om bestralingsbehandeling aan kankerpasiënte te gee, onregmatig en ongrondwetlik is. Jack Bloom van die DA sê die departement en die uitvoerende hoofde van die Charlotte Maxeke- en die Steve Biko-hospitaal is beveel om die waglys van kankerpasiënte wat vir bestralingsdienste wag, binne 45 dae by te werk:
# Wêreldmoondhede het die Amerikaanse president, Donald Trump, se strawwe tariewe op ingevoerde voertuie en onderdele gekritiseer en met vergelding gedreig terwyl die toenemende handelsoorlog verskerp. Motoruitvoerder Duitsland het die Europese unie gevra om ferm op te tree terwyl Japan sê hy sal alle moontlikhede oorweeg. Die Amerikaanse tariewe tree op 3 April in werking en sal buitelands-vervaardigde motors, ligte vragmotors en belangrike motoronderdele raak. Aandelemarkte het skerp gedaal, met Toyota, Hyundai en Mercedes aan die voorpunt. In New York het die aandele van General Motors, Ford en Stellantis ook afgeneem.
# Aanklaers in die seksuele mishandelingsaak teen Gerard Depardieu het ‘n opgeskorte vonnis van 18 maande aanbeveel vir die beroemde Franse akteur. Die hoof-aanklaer het in sy slotbetoog ook gevra dat die 76-jarige ‘n boete van 395-duisend-rand opgelê word en skadevergoeding aan die klaers moet betaal. Die twee vroue het hom beskuldig van seksuele aanranding tydens die verfilming ‘n rolprent in 2021. Die aanklaer sê Depardieu moet ook beveel word om sielkundige behandeling te ondergaan en op Frankryk se register van seksoortreders geplaas word.
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, speel môre teen die Amerikaner Jessica Pegula in die Miami Ope se eindstryd. Sabalenka het Jasmine Paolini van Italië afgeransel terwyl Pegula die Filippynse tiener, Alexandra Eala, se sprokies-segetog beëindig het. In die mansafdeling het die Serwiër Novak Djokovic na die halfeindronde deurgedring met sy oorwinning oor die Amerikaner Sebastian Korda. Nog ‘n Amerikaner, Taylor Fritz, die ongekeurde Tsjeg Jakub Mensik, en die Bulgaar Grigor Dimitrov is ook deur na die halfeindronde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-17-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-54-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-162-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-67-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-96-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….