Nuus 12:00
BULLETIN 18 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister George kondig aan die Wet op Klimaatsverandering is nou in werking
# Die DA beweer die Gautengse regering mors miljoene op Telkomlyne
# En Franse aanklaers ondersoek TotalEnergies oor ‘n aanval in Mosambiek
# President Cyril Ramaphosa het die Wet op Klimaatsverandering onderteken wat gister van krag geword het. Nie alle wetsbepalings het egter in werking getree nie omdat die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing besig is met die ontwikkeling van ‘n stel regulasies wat die instelling moontlik sal maak. Minister Dion George sê die wet sal die ontwikkeling van doeltreffende klimaatsveranderingsbeleid en die langtermyn-oorgang na ‘n lae-koolstof-ekonomie en -samelewing moontlik maak. Hy sê dit het ook ten doel om die grondslag te lê vir ‘n veerkragtige groen ekonomie.
# Die DA in Gauteng het die provinsiale regering veroordeel omdat hy miljoene rand op Telkom-landlyne mors en nie oorskakel na kostebesparende internetprotokol-verbindings nie. ‘n Oudit deur die Departement van e-Regering het onthul die gebruik van IP-telefone kan groot gebruikers soos die Departement van Gesondheid- en van Onderwys jaarliks miljoene rand spaar. Michael Waters van die DA beloof om antwoorde te kry en hom vir koste-doeltreffende oplossings te beywer:
# Franse aanklaers ondersoek TotalEnergies vir moontlike manslag en versuim om hulp te bied tydens ‘n Jihadistiese aanval in Mosambiek in 2021. Die aanval op Palma het gelei tot die dood van burgerlikes naby gasprojekte wat gedeeltelik aan TotalEnergies behoort. Die naasbestaandes van oorlewendes en slagoffers het in 2023 ‘n klagte ingedien wat tot die ondersoek gelei het. Die maatskappy ontken wangedrag en sê hy het gehelp om twee-duidend-500 burgerlikes te ontruim. Intussen is ‘n lening van 90-miljard-rand toegestaan om Mosambiek se vloeibare aardgasprojek weer aan die gang te kry.
# Tennis: Die sesmalige kampioen, Novak Djokovic van Serwie, en 2022 se wenner, Carlos Alcaraz van Spanje, spook dalk sake uit in die halfeindronde van die Miami Ope. Djokovic begin sy veldtog teen sy landgenoot Hamad Medjedovic of die Australiër Rinky Hijikata. Alcaraz takel David Goffin van België of Aleksandar Vukic van Australië. Die pasgekroonde kampioen van Indian Wells, Jack Draper van Brittanje, wat die geleentheid het om die gesogte Sonskyn-dubbel te voltooi, is in dieselfde deel van die loting as die Duitser Alexander Zverev.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-1-sent teen die dollar, 19-rand-72-sent teen die euro en 23-rand-41-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-96-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-en-2-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-35-sent per vat.
# En laastens, die FW de Klerk-stigting sê Suid-Afrika se geldelike probleme het ʼn ernstige uitwerking op landsburgers se regte en vryhede. Die stigting het sy 2024-jaarverslag vrygestel wat aantoon tot watter mate regte en vryhede geniet word soos in die Handves van Regte vervat. Die stigting se ondervoorsitter, Christina Teichmann, sê hulle het bevind elf menseregte, insluitend vryheid van uitdrukking, het verswak, tien het dieselfde gebly en vier het verbeter:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….