Nuus 12:00
BULLETIN 17 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa is vol vertroue die spanning met Amerika sal opgelos word
# Minister Majodina beloof om te sorg Clanwilliam-damwal-projek word versnel
# En SpaceX se Starship-vuurpyl vertrek einde volgende jaar Mars toe
# President Cyril Ramaphosa glo die geskiedkundige verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika sal die huidige probleme oorkom. Dit volg nadat Suid-Afrika se ambassadeur in Amerika, Ebrahim Rasool, Vrydag uit die land gesit is weens sy opmerkings oor president Donald Trump se administrasie. Die minister van Buitelande Sake, Marco Rubio, het Rasool daarvan beskuldig dat hy ‘n rasgedrewe politikus is en hom persona non grata verklaar. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het aan New24 gesê die regering is bereid om opbouende besprekings met die Trump-administrasie te voer oor sake waaroor hulle ooreenstem.
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Maatskaplike Ontwikkeling het die fluitjieblasers geloof wat steeds wetstoepassingsagentskappe inlig oor amptenare van die Suid-Afrikaanse Maatskaplike Sekerheidsagentskap wat vermoedelik bedrog gepleeg het. Die komitee se voorsitter, Bridget Masango, sê die polisie het Vrydag vier SASSA-amptenare by die plaaslike kantoor in Johannesburg aangekeer nadat hulle inligting van verklikkers ontvang het:
# Die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, sê haar departement sal sorg dat die verhoging van die Clanwilliam-dam se wal in die Olifantsrivier in die Wes-Kaap teen 5,7-miljard-rand, versnel word. Die projek in die Cederberg-munisipaliteit sal na verwagting in 2028 voltooi word. Majodina sê die projek sal nie net die veiligheid van die dam verbeter nie, maar ook ekonomiese byvoordele vir die omgewing bring:
# Gholf: 2019 se kampioen, Rory McIlroy van Noord-Ierland, speel vandag in Florida teen die Amerikaner JJ Spaun in ‘n uitspeelstryd oor drie-putjies om die wenner van die Spelerskampioenskap te bepaal. ʼn Vertraging van vier ure weens gure weer het gister gekeer dat die PGA-toer se beroemde toernooi afgehandel word. Albei het op 12-onder-syfer klaargemaak. Die Amerikaners Tom Hoge, Akshay Bhatia en Lucas Glover was saam derde. McIlroy sê hy het sy kanse verspeel:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-20-sent teen die dollar, 19-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-55-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-542. Die prys van goud is twee-duisend-987-dollar-23-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-76-sent per vat.
# En ten slotte: Die stigter van SpaceX, Elon Musk, sê sy maatskappy se reuse-Starshipvuurpyl sal aan die einde van volgende jaar na Mars vertrek. Dit sal Tesla se mensagtige robot, Optimus, aan boord hê. Musk sê op X ook landings deur mense op Mars kan so vroeg as 2029 begin as die aanvanklike landings goed verloop, hoewel 2031 die meer waarskynlike datum is. Die opdatering volg op verskeie onlangse teleurstellings vir die wêreld se eerste privaat ruimtemaatskappy en Musk se lankgekoesterde droom van ‘n kolonie op Mars.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….