Nuus 12:00
BULLETIN 14 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Gewese minister word ondersoek vir die onregmatige toestaan van permanente verblyf aan ‘n Gupta se neef
# ‘n Amerikaanse beïnvloeder kry die wind van voor na sy ‘n baba-buidelmuis van sy ma wegneem
# En Donatella Versace tree uit as die Italiaanse modehuis se kreatiewe hoofdirekteur
# Die gewese minister Nosiviwe Mapisa-Nqakula is onder skoot weens haar beweerde toestaan van permanente verblyfreg aan Atul Gupta se neef, Varun Gupta, en sy vrou, Vega. Die Departement van Binnelandse Sake beweer Mapisa-Nqakula het persoonlik die aansoek hanteer, waarvoor geen regsredes verskaf is nie. News24 berig die departement wil die besluit in die hof omkeer omdat dit ‘n oortreding van die Immigrasiewet is. Hy het ook kommer uitgespreek oor vermiste immigrasielêers en moontlike bedrog in verband met die Guptas se permanente verblyf en gevolglike naturalisasie.
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Christen-forum het die Malawiese hofbeslissing verwelkom dat die selfverklaarde profeet, Shepherd Bushiri, en sy vrou, Mary, aan Suid-Afrika uitgelewer moet word. Die egpaar staan tereg op verskeie aanklagte, insluitend verkragting en bedrog. Hulle het in 2020 na hulle vaderland gevlug nadat hulle op borgtog vrygelaat is. Die forum se president, Marothi Mashashane, sê die regering moet bestaande godsdiensorganisasies erken en ondersteun sodat hulle teen mense soos Bushiri kan optree:
# Australië se eerste minister, Anthony Albanese, het ook ‘n Amerikaanse beïnvloeder gekritiseer oor ‘n video waarin sy ‘n wilde buidelmuis van sy beangste ma afneem. Die video het bewaringsdeskundiges ontstel. Albanese het voorgestel Sam Jones moet dit probeer met ‘n dier soos ‘n krokodil wat hulself kan verdedig. Sy is verfilm toe sy die klein diertjie wegneem terwyl die ma agterna hardloop. Buidelmuise is ‘n beskermde spesie in Australië. Babas het ‘n sterk verbintenis met hulle ma’s en enige verwydering kan spanning veroorsaak en die diertjie seermaak.
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Carlos Alcaraz, het die vierde agtereenvolgende jaar deurgedring na die halfeindronde van die Indian Wells-meesterstoernooi toe hy Francisco Cerundolo van Argentinië geklop het. Hy kom nou teen die Brit Jack Draper te staan, wat die Amerikaner Ben Shelton uitgeskakel het. Daniil Medvedev van Rusland het Arthur Fils van Frankryk verslaan. In die vroueafdeling is die verdedigende kampioen, Iga Swiatek van Pole, en die Russiese tiener Mirra Andreeva deur na die halfeindronde. Alcaraz sê hy geniet die toernooi:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-22-sent teen die dollar, 19-rand-77-sent teen die euro en 23-rand-57-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-424-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-989-dollar-57-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 70-dollar-15-sent per vat.
# En laastens, die kreatiewe hoofdirekteur van die Italiaanse luukse-modehuis Versace, Donatella Versace, gaan ná bykans 30 jaar uittree. Sy het in 1997 die pos by haar broer, Gianni, oorgeneem ná sy opspraakwekkende moord voor sy huis in Miami, Florida. Gianni het die modehuis in 1978 gestig. Die 69-jarige Donatella word opgevolg deur Dario Vitale, wat ‘n gewese ontwerpdirekteur van Miu Miu is. Versace se moedermaatskappy, Capri Beherend Beperk, sê Donatella sal voortaan as hoof-handelsmerk-ambassadeur na Versace se filantropiese en liefdadigheidswerk omsien.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….