Nuus 12:00
BULLETIN 13 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# SKOOR sal die begroting ondersoek om verkwistende besteding uit te skakel
# Gauteng se Gesondheidsdepartement worstel met die verlies aan USAID-hulp
# En die anti-apartheidsaktivis Allan Boesak kritiseer AfriForum en verwerp die nasionale dialoog
# Die Parlement se staande komitee oor Openbare Rekeninge sal die begroting ontleed om verkwistende uitgawes uit te skakel. Die voorsitter, Songezo Zibi, het die komitee se mandaat beklemtoon om die behoorlike toewysing van fondse te verseker. Zibi vra ‘n holistiese hersiening van die begroting om nasionale behoeftes aan te pak. Hy bevestig die Parlement sal die fiskale raamwerk binne die volgende 30 dae debatteer en verwerk, wat sal lei tot besprekings oor die begroting en moontlike nuwe voorstelle:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement worstel om die 1,4-miljard-rand te vervang wat verlore gegaan het met USAID se onttrekking van fondse. Die Amerikaanse president, Donald Trump, se administrasie het 83-persent van USAID se programme wêreldwyd opgeskort en sê dis nie in ooreenstemming met sy agenda van “Amerika Eerste” nie. Die LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sê daar is nie ‘n begroting of alternatiewe befondsingsbronne of vennootskappe om te vergoed vir die verlies nie. Sy sê die afdelings wat negatief geraak word sluit in MIV-toetsing, berading en menslike hulpbronne.
# Die anti-apartheidsaktivis Allan Boesak het aangekondig hy gaan nie die voorgestelde nasionale dialoog bywoon nie, omdat dit volgens hom nie Suid-Afrika se probleme sal oplos nie. Boesak het in Kaapstad gesê hy is gekant teen die regering van nasionale eenheid. Hy het ook Trump se gebrek aan kennis oor wêreldsake gekritiseer en bygevoeg dat AfriForum se optrede teen die Onteieningswet, Suid-Afrika benadeel:
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Carlos Alcaraz, is die vierde agtereenvolgende jaar deur na die kwarteindronde van die Indian Wells-meesterstoernooi. Die Spanjaard het Grigor Dimitrov van Bulgarye verslaan en speel volgende teen Francisco Cerundolo van Argentinië. Alcaraz hoop om die toernooi ‘n derde keer te wen. Die 22-jarige Ben Shelton het sy Amerikaanse landgenoot Brandon Nakashima verslaan en die jongste plaaslike speler in 21 jaar geword om die kwarteind te haal. Die Rus Daniil Medvedev en Jack Draper van Brittanje is ook deur na die laaste agt.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-36-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 82-duisend-928-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-942-dollar-78-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-88-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Amerikaner se hond het hom geskiet toe die dier op sy bed gespring en ‘n gelaaide vuurwapen per ongeluk laat afgaan het. Die man van Memphis, Tennessee, en sy lewensmaat het geslaap toe hy geskiet is. Gelukkig het hy weggekom met net ‘n effense wond aan sy linker-bobeen. Volgens ‘n polisieverslag het die jaar-oue Amerikaanse veghond, Oreo, se poot in die sneller vasgehaak en ‘n skoot laat afgaan.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….