Nuus 12:00
BULLETIN 11 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Busongeluk eis 12 lewens in Kemptonpark
# Die Stad Johannesburg skuld 500-miljoen-rand aan prokureurs en skuldinvorderaars
# En die verhoor van sewe beskuldigdes in Diego Maradona se dood begin in Buenos Aires
# Twaalf mense is vanoggend dood toe ‘n bus omgeslaan het op die R21-noord net voor die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kemptonpark, Gauteng. Ekurhuleni se Ramp- en Noodbestuursdiens het bevestig die bus het herhaaldelik gerol. Die nooddiens se woordvoerder, William Ntladi, sê die slagoffers is nege vroue en drie mans:
Die KwaZulu-Natalse LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings, Siboniso Duma, sê intussen hulle wil seker maak die nege slagoffers van Sondag se busongeluk kry waardige gedenkdienste en begrafnisse. ‘n Bus met lidmate van die Twaalf Apostels-kerk in Trinity het op die N2 omgeslaan. Duma sê hy sal hierdie week die slagoffers se gesinne besoek:
# Die Stad Johannesburg skuld meer as 90 prokureurs en skuldinvorderaars blykbaar sowat 500-miljoen-rand. Volgens berigte ontvang amptenare gunslone van debiteure en omseil die stad se rekeninge. Die betrokke diensverskaffers wat in Augustus laas betaal is, sê die metro se besluit om rekeninge te herroep, bedreig hulle ondernemings. Die metro se woordvoerder, Kgamanyane Maphologela, het teenoor Sunday World die bewerings van korrupsie ontken en sê uitstaande eise word hersien en betalings sal daarvolgens hanteer word.
# Die verhoor van sewe mediese beroepslui wat aangekla word oor die dood van die Argentynse sokkerlegende Diego Maradona begin vandag in die hoofstad, Buenos Aires. Hy was 60 toe hy in November 2020 dood is na ‘n breinoperasie. Die amptelike oorsaak van sy dood was ‘n hartaanval, maar aanklaers het die beskuldigdes aangekla van roekelose en onvoldoende tuisversorging. ‘n Paneel van 20 mediese kenners het in 2021 bevind Maradona sou ‘n beter kans op oorlewing gehad het met behoorlike behandeling in ‘n geskikte mediese instelling.
# Sokker: Manchester United se mede-eienaar, Jim Ratcliffe, sê die klub se geld sou teen Kersfees op gewees het as maatreëls nie ingestel is nie. ‘n Styging in sommige kaartjiepryse in die middel van die seisoen en die afdanking van honderde werknemers is onder die ongewilde maatreëls wat getref is. Ratcliffe het aan BBC Sport gesê hy is daarop ingestel om United die wêreld se winsgewendste klub te maak en om dit te doen, moes moeilike besluite geneem word:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-25-sent teen die dollar, 19-rand-90-sent teen die euro en 23-rand-59-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 80-duisend-882-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-905-dollar-67-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-32-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….