Nuus 12:00
BULLETIN 7 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Drie mense sterf en vier word gewond in ‘n skietery in ‘n restaurant in Sandton
# Wes-Kaapse landbou bevorder Suid-Afrika se groeikoers
# En Kanada verwyder Jack Daniel’s van winkelrakke weens Amerika se heffing
# Drie mense is gisteraand by ‘n restaurant in Sandton, Johannesburg, doodgeskiet en vier gewond. ʼn Polisiewoordvoerder, Dimakatso Nevhuhulwi, sê volgens voorlopige ondersoeke wou ʼn man met ʼn vuurwapen die restaurant binnegaan, maar dit word nie toegelaat nie. Sy sê ʼn onderonsie het uitgebreek wat tot ʼn skietery tussen die man se lyfwagte en veiligheidswagte gelei het. Sy sê niemand is nog in hegtenis geneem nie:
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ivan Meyer, het die styging van 17,2-persent in Suid-Afrikaanse landbou van Oktober tot Desember 2024 toegeskryf aan ‘n toename in veldgewasse en lewende hawe. Hy sê vooruitskattings vir 2025 dui aan dat die provinsie se ekonomie met 2,1-persent kan groei as gevolg van landbou en handel. Meyer sê die landbousektor speel ‘n belangrike rol in werkskepping, met planne vir verhoogde uitvoere:
# Verlede jaar se matrieks het tot die 17de van die maand tyd om aansoek te doen om ‘n hereksamen. Star Schools se uitvoerende hoof, Vimala Ariyan, beklemtoon ‘n matriek-kwalifikasie kan die armoede-siklus verbreek, want mense daarsonder verdien in hulle leeftyd 75-persent minder. Die Tweedekans-matriekprogram bied steun, maar daar is steeds uitdagings soos toegang tot data en studieplekke. Ariyan vra studente om geakkrediteerde instellings met behoorlike befondsing te kies en beklemtoon ‘n hereksamen kan lei tot beter onderrig- en werksgeleenthede.
# Verskeie Kanadese provinsies, onder meer Ontario, het begin met stappe teen die heffings van 25-persent wat die Amerikaanse administrasie op Kanadese goedere ingestel het. Ontario se Drankbeheerraad is een van die grootste kopers van alkohol in die wêreld en het Amerikaans-vervaardigde alkoholiese produkte soos Jack Daniel’s van sy rakke verwyder. Eerste minister Justin Trudeau het president Donald Trump vroeër daarvan beskuldig dat hy ‘n algehele ineenstorting van die Kanadese ekonomie beplan om anneksering makliker te maak. Trump het reeds aangedui dat hy Kanada die 51ste Amerikaanse staat wil maak.
# Rugby: Frankryk se losskakel, Romain Ntamack, en die regtervleuel Damian Penaud is weer in die groep ingesluit vir môre se verwagte opwindende Sesnasies-kragmeting met die kampioen en voorloper op die punteleer, Ierland, in Dublin. Ntamack was geskors en Penaud is weggelaat vir die vorige toets teen Italië. Frankryk se hoofafrigter, Fabien Galthie, het weer sewe voorspelers en een agterspeler op die bank gekies – dieselfde taktiek wat gewerk het in hul weghol-oorwinning van 73-24 oor Italië. Hy sê dit pas die profiel van hul huidige beste spelers.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-11-sent teen die dollar, 19-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-38-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-192-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-918-dollar-34-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 69-dollar-88-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….