Nuus 12:00
BULLETIN 6 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie begin ‘n openbare debat oor ‘n elektroniese stemproses in Suid-Afrika
# Die DA se besoek aan Amerika word bevraagteken
# En rugby: Die Bokke wil vanjaar ‘n bykomende drie wedstryde speel
# Die Verkiesingskommissie is gereed vir ‘n openbare bespreking oor die moontlikheid van ‘n elektroniese kiesproses in Suid-Afrika. ‘n Driedaagse konferensie sal van Maandag tot Woensdag in Kaapstad gehou word om die debat te begin. Die konferensie sal die moontlikheid van e-stemmery ondersoek, insluitend lesse wat ander lande geleer het. Die kommissie se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê dit sal verkiesings verbeter, kiesers se toegang tot die kiesproses vergemaklik en hulle die geleentheid gee om die toekoms van digitale stemmery te ontwikkel:
# Die polisie in Mpumalanga het ‘n soektog van stapel gestuur na verdagtes wat betrokke was by die moord op ʼn bekende pastoor, radiopersoonlikheid en sakeman, Ezrom Mathumbu. ʼn Polisiewoordvoerder, Donald Mdhluli, sê Mathumbu het op die R536 by Cork Trust tussen Mkhuhlu en die Krugerwildtuin gery toe hy talle keer geskiet is. Hy sê niks is blykbaar tydens die voorval gesteel nie en Mathumbu is op die toneel dood verklaar:
# Die Activists and Citizens Forum sê die DA se geheimsinnige besoek aan Amerika terwyl AfriForum en Solidariteit ook in die land was, is kommerwekkend. Die DA sê sy werksbesoek aan die land was daarop gemik om diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en Amerika bestendig te kry in hierdie tydperk van verhoogde spanning. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê president Cyril Ramaphosa moet stappe doen teen die DA:Die Verenigde Nasies se Kinderfonds sê intussen die aangekondigde terugsnyding en verwagte fondsinkortings deur verskeie skenkerlande sal sy vemoë beperk om miljoene kinders in ernstige nood te help. Die Amerikaanse regering het die befondsing deur die Amerikaanse Agentskap vir Internasionale Ontwikkeling aan verskeie organisasies sonder winsbejag opgeskort. UNICEF word in geheel befonds deur vrywillige bydraes van regerings, privaat sektor-vennote en individue. Die uitvoerende direkteur, Catherine Russell, sê miljoene kinders word deur konflikte geraak en moet teen dodelike siektes soos masels en polio ingeënt word.
# Rugby: Springbok-bestuur wil hê die span moet vanjaar nog drie wedstryde speel om die skedule moeiliker te maak halfpad tussen die twee Wêreldbekertoernooie. Die tweemalige verdedigende kampioen het reeds 13 bevestigde afsprake, maar bedryfsbestuurder Charles Wessels sê hulle beplan ‘n wedstryd teen die Barbarians in Junie, sowel as twee toetse teen onbevestigde teenstanders. Hoofafrigter Rassie Erasmus sê hulle besef dit gaan ‘n taai seisoen wees, maar hulle wil die spelers die kans gee om ervaring op te bou en hulle staal te wys.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-37-sent teen die dollar, 19-rand-83-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 91-duisend-517-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-907-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 69-dollar-37-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….