Nuus 12:00
BULLETIN 5 Maart 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa sê kernkrag is steeds deel van Suid-Afrika se energiemengsel
# Tien mense sterf in ‘n botsing tussen ‘n bus en ‘n vragmotor in die Vrystaat
# En twee nuwe leeuwyfies word in die Addo-olifantpark losgelaat
# Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientsho Ramokgopa, het Suid-Afrika se verbintenis tot kernenergie bevestig en sê kernkrag word nou internasionaal aanvaar as een van die skoonste vorms van energie. Hy het op die Afrika Energie-indaba in Kaapstad gepraat. Ramokgopa sê die land is verplig om sy kweekhuisgasse te verminder en sy nywerheidsbasis te verbreed:
# Tien mense is vanoggend dood in ‘n botsing tussen ʼn bus en ʼn vragmotor op die N6 tussen Reddersburg en Smithfield in die Vrystaat. Die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika het die bus gekontrakteer. ʼn Woordvoerder van die Vrystaatse Departement van Paaie en Vervoer, Hillary Mophethe, sê meer as 20 mense is beseer:
# Mexiko gaan sy eie tariewe teen Amerika instel na aanleiding van die Amerikaanse president, Donald Trump, se tariewe van 25-persent teen die buurland. President Claudia Sheinbaum sê daar is geen rede of regverdiging daarvoor nie omdat Mexiko sy samewerking gee om dwelmsmokkelary te bestry. Sy sê haar land sal altyd eerder onderhandel en sy hoop om môre telefonies met Trump te praat. Sheinbaum het die Withuis gestriem oor ‘n aanstootlike en lasterlike verklaring waarin beweer word dwelmkartelle gaan ongehinderd voort weens die ondraaglike verhouding met haar regering.
# Motorsport: Die Suid-Afrikaanse span van Brian Baragwanath en mede-bestuurder Leonard Cremer se finale uitslag in die Dakar-tydren wat in Januarie in Saoedi-Arabië gehou is, is gediskwalifiseer. ‘n Brandstofmonster van hulle voertuig aan die einde van die eerste skof, het getoon dat dit nie aan regulasies voldoen nie. Verteenwoordigers van Century Racing Factory het aan ‘n verhoor gesê die bedoeling van die hoë-oktaan brandstof was nie om die prestasie te verbeter nie, maar om die enjin te beskerm. Baragwanath en Cremer was algeheel tiende.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-43-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-707-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-921-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 70-dollar-73-sent per vat.
# En ten slotte: Twee leeuwyfies wat in die Addo-olifantpark naby Gqeberha losgelaat is, is nou in die wildkykgebied te sien. Die twee-en-‘n-half-jaar oue susters wat in Desember van die !Khamab Kalahari-park gebring is, verleen sterk genetiese verskeidenheid aan die park se leeubevolking. SANParke sê die twee sal navorsers help met die nasporing van habitatgebruik, interaksie met roofdiere en prooispesies. Die loslating is deel van ‘n bewaringspoging om leeubevolkings te bestuur en ekologiese bestendigheid in die park te behou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….