Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Kritiek-beseerde SANW-soldate word uit die DRK huis toe gebring
# Die kabinet het volgens berigte minister Godongwana se hersiene begroting verwerp
# En, motorsport: Die MotoGP-kampioen, Jorge Martin, word weer geopereer en sal die eerste byeenkoms van die seisoen misloop
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag het bevestig ‘n groep soldate wat in ‘n bedenklike toestand is en dringend mediese aandag nodig het, is gerepatrieer uit die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo. Die soldate is gewond in gevegte met die Rwandees-gesteunde M23-rebelle. Die Weermag se woordvoerder, Siphiwe Dlamini, sê die ander beseerde soldate wat gerepatrieer word sal volgens skedule dié week in Suid-Afrika aankom:
# Die kabinet het volgens berigte die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se hersiene begroting verwerp, wat die voorgestelde verhoging van twee-persent in BTW uitsluit, en noem dit ontoepasbaar. Gister se spesiale kabinetsvergadering moes die partye in die regering van nasionale eenheid se geskille oor die uitgestelde begroting uit die weg ruim. Volgens News24 sluit items wat uitgesny kan word, 23-miljard-rand in vir ‘n salaris-verhoging van 5,5-persent, en meer as 29-miljard-rand om werklose dokters in diens te neem. ‘n Kabinet-subkomitee onder leiding van adjunkpresident Paul Mashatile moet die moontlikhede oorweeg.
# SANParke sê die brand wat Sondagoggend uitgebreek het in die Nuwelandkloof in die Tafelberg Nasionale Park is onder beheer. Die Nuwelandbos is steeds vir die publiek gesluit omdat die paadjie erg beskadig en baie onbestendig is, maar die ander wandelpaaie op Duiwelspiek en Platteklip na Maclear se Baken is oop. SANParke se woordvoerder, Charles Phahlane, sê ‘n grondspan is op bystand om te reageer indien nodig wanneer dit warmer word:
# Motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen, Jorge Martin, sal die naweek se eerste Grand Prix van die seisoen in Thailand misloop na ‘n nuwe besering tydens oefeninge in sy geboorteland. Die 27-jarige Spanjaard is vroeër die maand geopereer nadat hy sy regterhand en -voet gebreek het in ‘n botsing in Maleisië. Martin se nuwe span, Aprilia, sê hy het nou sy linkerhand gebreek en word vandag in Barcelona geopereer. Die hersteltyd sal na die operasie beoordeel word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-25-sent teen die euro en 23-rand-21-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-909-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-932-dollar-18-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-51-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Verslag deur Access Now en die #KeepItO-koalisie wys daar was in 2024 ‘n rekordgetal van 296 internetafsluitings in 54 lande. Dit is hoër as die totaal van 283 in 2023. Felicia Anthonio van Access Now het aan Newzroom Afrika gesê konflik is die grootste oorsaak van die afsluitings, wat gedoen word om kommunikasie te onderdruk en inligting te beheer. Sy beklemtoon dat daar dringend internasionale optrede moet wees om digitale sensorskap te verhoed:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….