Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ontruiming van gewonde soldate uit die DRK begin dié week
# Ramaphosa sê meningsverskille is te wagte in die regering van nasionale eenheid
# En rugby: Die Blitsbokke se afrigter is tevrede met hulle tweede plek in Vancouver
# Die ontruiming van gewonde soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag uit die ooste van die Demokratiese Republiek die Kongo begin dié week. Daar is byna 190 gewonde en siek Suid-Afrikaanse soldate in die DRK, van wie ten minste vyf ernstig beseer en twee swanger is. Die soldate is verlede maand gewond in gevegte teen die Rwandees-gesteunde M23-rebelle. Gewonde soldate uit Tanzanië en Malawi sal ook ontruim word in ‘n operasie gelei deur die Verenigde Nasies.
Die DA vra intussen die afhandeling van die herbeoordeling van 2015 se Verdedigingsoorsig, gegrond op ‘n assessering van die soort en grootte van die Weermag wat Suid-Afrika nodig het. Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag se laaste strategiese hersiening was meer as ‘n dekade gelede. Chris Hattingh van die DA sê die SANW sit nou met ‘n verouderende personeelkorps, toerusting wat nie tred hou en goed onderhou word nie, sowel as ernstige wanbestuur, wat vererger word deur korrupsie:
# President Cyril Ramaphosa sê meningsverskille, weersprekings en verskillende besluite is deel van regerings wat uit verskeie politieke partye bestaan. Dit volg op verlede week se uitstel van die begrotingstoespraak oor verskille binne die regering van nasionale eenheid oor voorgestelde belastingverhogings. Die president sê in sy weeklikse nuusbrief sodanige verskille beteken nie die regering verkeer in ‘n krisis nie, maar dat die demokrasie werk. Ramaphosa sê dit is noodsaaklik dat die verskillende partye se kommer oor die begroting behoorlik aandag kry ter wille van deursigtigheid en die bou van konsensus.
# Rugby: Die Springbok-sewes se afrigter, Philip Snyman, sê hulle het hul doelwitte bereik ondanks hul tweede plek in Vancouver, Kanada. Suid-Afrika het in die eindstryd 19-12 verloor teen Argentinië, wat sy vierde agtereenvolgende titel in die toernooi ingepalm het. Die Blitsbokke het steeds ‘n kans om die wêreldreeks te wen, met twee rondes wat oorbly. Snyman sê hulle het die eindstryd verloor, maar in baie ander opsigte gewen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-27-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-628-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-941-dollar-41-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-85-sent per vat.
# En ten slotte: Amerika se Posdiens vereer die ontslape aktrise en komediant, Betty White, met ‘n nuwe Forever-herdenkingeël. Sy het tydens haar lang loopbaan van meer as 60 jaar agt Emmys, drie SAG-toekennings, ‘n Grammy en ‘n ster op Hollywood se Walk of Fame gekry. Die Posdiens sê die seël het ‘n digitaal-geskepte uitbeelding van White in ‘n botstuk met blou kolle teen ‘n pers agtergrond met vrolike kolletjies wat pas by haar sprankelende persoonlikheid. White is in 2021 op 99 oorlede. Die seël sal volgende maand beskikbaar wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….