Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ATM vra minister Godongwana om ‘n doeltreffende fiskale plan aan te kondig in sy begrotingsrede
# SA Rugby se president sê die borgskaps-ooreenkoms met Monster Energy is broodnodig
# En die Weskus word vinnig die aangewese bestemming vir walvisbesigtiging
# Die African Transformation Movement sê die minister van Finansies, Enoch Godongwana, moet die beloftes wat president Cyril Ramaphosa in sy staatsrede gemaak het, in werkbare beleid omskep. Die minister sal sy begrotingstoespraak Woensdag lewer. Ramaphosa het in sy staatsrede verreikende doelwitte rondom infrastruktuur-ontwikkeling, maatskaplik-ekonomiese groei en doeltreffende bestuur aangekondig. ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê Godongwana moet ‘n sterk fiskale plan aankondig wat voorkeur gee aan doeltreffende openbare diens en verantwoordbaarheid:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê ontwrigtende reën sal tot Donderdag voortduur in die sentrale en oostelike dele van die land. Sowat 20 tot 50 millimeter reën word in provinsies soos Noordwes, Gauteng, die Vrystaat en Mpumalanga verwag. Weervoorspeller Lehlohonolo Thobela sê vogtige, tropiese lug uit ‘n kontinentale laagdruk bo Botswana is die hoofoorsaak van die huidige bewolkte en reënerige toestande:
# ʼn Nuwe studie deur die Nasionale Navorsingstigting se Sentrum vir Uitnemendheid in Voedselsekerheid het belangrike proteïne ontdek wat sorghum in staat stel om droogte en hitte te weerstaan. Sorghum is ‘n stapelvoedsel vir meer as 500-miljoen mense in meer as 30 lande. Die studie het unieke veranderings in proteïne gevind wanneer dit aan droogte en hitte blootgestel word. Die reaksie van blare en dié van wortels het ook verskil.
# Die president van SA Rugby, Mark Alexander, sê die ooreenkoms vir die nuwe vierjaar-borgskap van Monster Energy sal bykomende finansiële steun verleen. Die provinsiale unies het in Desember ‘n aanbod verwerp van die Ackerley-sportgroep in Seattle, Amerika, vir ‘n aandeel van 20-persent in SA-Rugby se kommersiële regte-maatskappy, wat die waarde van sy kommersiële bedrywighede verhoog. Alexander sê dit is ‘n groot probleem om nie ‘n reserwefonds te hê nie:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-41-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 23-rand-18-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-117-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-900-dollar-26-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-84-sent per vat.
# En ten slotte: Die Weskus is vinnig besig om ‘n aangewese bestemming vir walvisbesigtiging te word waar die boggelrug-, Suidelike noorkapper- en Bryde se walvis deur die jaar gesien kan word. Dié oplewing volg nadat die jag van walvisse in 1986 verbied is en walvisgetalle toegeneem het. Die databestuurder van Happywhale in Suider-Afrika, Alex Vogel, sê ‘n hele supergroep boggelrug-walvisse is in slegs een maand aan die Weskus opgemerk, insluitend ‘n verstommende 279 individuele diere. Die verskynsel bied unieke geleenthede vir navorsers, omgewingsbewaarders en toeriste om die diere te besigtig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….