Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 14 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF vra die beëindiging van wapenverkope aan Israel
# Die sperdatum vir die omruiling van SASSA-kaarte word verleng
# En motorsport: Lando Norris is gereed vir die F1-bestuurderskampioenskap
# Die EFF is diep bekommerd oor aanduidings van baie ernstige oortredings van Suid-Afrika se verbod op wapenverkope aan Israel. Die party voer aan Suid-Afrikaanse wapenvervaardigers het in 2023 wapens ter waarde van 3,3-miljard-rand verkoop aan lande wat onder die grootste verskaffers aan Israel tel, insluitend Amerika, Duitsland, Hongarye, Italië en Frankryk. Die EFF eis die regering moet die swak en onbekwame administrasie van wapenuitvoere dringend hervorm en die vermoë van die Nasionale Komitee op Konvensionele Wapenbeheer versterk om aan sy wetlike mandaat te voldoen.
Die Verenigde Nasies sê intussen hy voer ‘n stryd teen tyd om humanitêre bystand uit te brei en voor te berei vir die reuse-taak om Gaza te herbou terwyl die brose skietstilstand tussen Israel en Hamas voortduur. Hamas het vroeër die week aangedui daar kan ‘n onbepaalde vertraging wees met die vrylating van die volgende drie gyselaars weens skendings deur Israel, maar gister bevestig die gyselaars sal môre vrygelaat word. Die VN se Kantoor vir Projekdienste sê die omvang van die vernietiging in Gaza hou logistieke en finansiële uitdagings in wat waarskynlik jare sal voortduur.
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, sê die sperdatum vir begunstigdes om die maatskaplike sekerheidsagentskap Sassa se gouekaarte na die Posbank se swartkaarte om te ruil, is tot 20 Maart verleng. Die oorspronklike sperdatum was 28 Februarie. Malatsi sê hulle vertrou die verlenging sal broodnodige bykomende tyd aan begunstigdes bied om hul kaarte te vervang:
# Motorsport: Die McLaren-renjaer Lando Norris sê hy is vasbeslote om die bestuurderskampioenskap vanjaar weer uit te daag met die nuwe Formule Een-seisoen wat volgende maand in Australië begin. Die Brit het McLaren verlede jaar gehelp om die eerste vervaardigerskroon sedert 1998 te buit. Hy het egter klaargemaak met 63 punte minder as Max Verstappen van Red Bull, wat sy vierde agtereenvolgende bestuurderstitel ingepalm het. Norris sê hy moet slim te werk gaan in sy stryd teen Verstappen:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-39-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 23-rand-13-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-905-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-938-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-14-sent per vat.
# En ten slotte: Die Gautengse Gesondheidsdepartement raai paartjies aan om Valentynsdag te vier deur hul gesondheid eerste te stel met aktiewe, bekostigbare idees vir afsprake. In plaas van tradisionele afsprake met aansit-etes kan paartjies gerus gaan stap, dans, fietsry of selfs saam gaan draf. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê gereelde oefening kan die risiko van hartsiektes, beroertes en diabetes verlaag, terwyl dit ook geestelike welstand opkikker:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….