Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Solidariteit gaan ‘n veldtog teen Suid-Afrika se rasgebaseerde wette van stapel stuur
# ‘n Ontvoerde negejarige meisie van Oos-Londen is met haar gesin herenig
# En krieket: Die Australiese bouler, Mitchell Starc, onttrek hom aan die Kampioenetrofee
# Solidariteit sê hy gaan ‘n omvattende nasionale en internasionale veldtog van stapel stuur teen Suid-Afrika se rasgebaseerde wette, insluitend regstellende optrede en swart ekonomiese bemagtiging. Jaco Kleynhans van Solidariteit sê hulle aksieplan sluit in druk op die regering om die land se raswette te wysig en skakeling met die G20-lande om Suid-Afrika se rasgebaseerde wette op die agenda te plaas. Hy sê hulle gaan die Internasionale Arbeidsorganisasie ook vra vir die aanstelling van ‘n spesiale verteenwoordiger om na die land te stuur:
# Die negejarige Emaan Fatima Ghumman wat verlede Dinsdag buite die Dreamland Primary School in Buffalo Flats, Oos-Londen, ontvoer is, is met haar gesin herenig. Volgens berigte is sy vanoggend in die vroeë oggendure naby ‘n polisiekantoor afgelaai. Die gesin het bevestig dat Emaan getraumatiseerd is en behandeling ontvang na haar beproewing. Die polisie ondersoek die voorval.
# ‘n Onderwyseres het ‘n agtjarige meisie doodgesteek in ‘n laerskool in Deajeon, Suid-Korea. Die kind is met steekwonde aangetref op die tweede verdieping van ‘n skool en in die hospitaal dood verklaar. Die onderwyseres is met steekwonde langs haar gevind, wat die polisie vermoed sy self toegedien het. Die Onderwysdepartement sê die vrou het ses maande verlof gevra vir depressie, maar het na 20 dae teruggekeer toe ‘n dokter besluit het sy is geskik om te werk.
# Die Verenigde Nasies se Klimaatsveranderingsliggaam vra lande om hulle nuwe klimaatsteikens teen September in te dien. Dit volg nadat China, Indië en die Europese Unie, wat van die grootste besoedelaars is, die spertyd misgeloop het. Lande moet ingevolge die Paryse Klimaatsooreenkoms van 2015 elke vyf jaar omvattende planne voorlê, met duidelike teikens vir die uitsny van koolstofvrystellings, of in die geval van armer lande, die vermindering daarvan. Simon Stiell van die VN sê die G20-groep is verantwoordelik vir 80-persent van globale vrystellings:
# Krieket: Die Australiese snelbouler Mitchell Starc het om persoonlike redes onttrek aan die Kampioenetrofee wat volgende week in Pakistan begin. Dit beteken Australië sal die toernooi aanpak sonder sy hele snelboulaanval wat die Wêreldbekertoernooi help wen het. Dit volg nadat Pat Cummins, Josh Hazlewood en Mitchell Marsh reeds weens beserings moes onttrek, terwyl Marcus Stoinis uitgetree het. Steve Smith sal die span aanvoer in Cummins se afwesigheid.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-211-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-890-dollar-24-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-28-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….