Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse konsulaat kan gesluit word as Sandton-rylaan se naamsverandering voortgaan
# Saftu beskryf Elon Musk se aanval op Julius Malema as roekeloos
# En Nieu-Seeland Rugby begin met regstappe teen sy borg, Ineos
# Die voorloper om as Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika benoem te word, Joel Pollak, waarsku die land se konsulaat in Johannesburg kan gesluit word as Sandton-rylaan se naam na Leila Khaled-rylaan verander word. Daar is steeds sterk teenkanting teen die voorgestelde naamsverandering, wat deur die ANC en die EFF gesteun word. Khalaed, ‘n Palestynse aktivis, is bekend vir haar betrokkenheid by vliegtuigkapings. Pollak voer aan die verering van Khaled is regstreeks teenstrydig met Amerika se kernwaardes. Die proses is sedertdien gestaak.
# Die vakbondfederasie Saftu veroordeel ten sterkste wat hy noem die roekelose en opruiende uitsprake van die miljardêr Elon Musk teen die EFF-leier Julius Malema. Musk vra optrede teen Malema en dat hy tot internasionale misdadiger verklaar moet word oor sy uitlatings oor witmense. Saftu se woordvoerder, Newton Masuku, sê Musk se opmerkings is nie slegs aanstootlik nie, maar ook ‘n growwe belediging vir Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie:
# Die DA in Gauteng vra die provinsiale Departement van Gemeenskapsveiligheid om onmiddellik aandag te gee aan die tekort aan brandweerwaens en -toerusting. Die Gautengse Rampbestuursentrum het bevestig die provinsie het 92 brandweerwaens maar net 57 kan gebruik word. Michael Sun van die DA sê munisipaliteit ondervind ʼn ernstige tekort aan bruikbare brandweerwaens en ʼn gebrek aan brandbestrydingstoerusting:
# Nieu-Seeland Rugby is besig met regstappe teen die Britse chemikalieë-reus, Ineos, en beskuldig die maatskappy dat hy sy borgskap-ooreenkoms van ses jaar verbreek. Die maatskappy, wat aan die Britse miljardêr Jim Ratcliffe behoort, het volgens berigte drie jaar te vroeg van sy winsgewende borgskap-ooreenkoms weggestap en nie sy eerste betaling vir vanjaar gemaak nie. Nieu-Seeland Rugby sê sy enigste keuse is om regstappe te doen om sy finansiële posisie te beskerm. Hy sê hy soek tans nuwe borge.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-47-sent teen die dollar, 19-rand-3-sent teen die euro en 22-rand-80-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-186-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-910-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-34-sent per vat.
# En ten slotte: Transparency International het sy 2024 Korrupsie-aanwyser uitgegee en daarvolgens bly Suid-Afrika se teenkorrupsiepogings staties. Met ’n telling van 41 wat dieselfde is as verlede jaar, bly die land onder die wêreldgemiddeld van 43. Die aanwyser meet 180 lande en gebiede reg oor die wêreld volgens korrupsievlakke in hul openbare sektor. Transparency International sê Suid-Afrika gaan die G20-leiersberaad aanbied, daarom sal hy sy oorsigmeganismes moet versterk om seker te maak korrupsie meng nie in by sulke belangrike internasionale prosesse nie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….