Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Steenhuisen waarsku die spanning tussen Amerika en Suid-Afrika kan die landbousektor benadeel
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge steun Trump se kritiek van Suid-Afrika se regeringsbeleid
# En, netbal: Engeland klop Suid-Afrika en wen die Nasiesbeker
# Die minister van Landbou, John Steenhuisen, het kommer uitgespreek oor die spanning tussen Amerika en Suid-Afrika en vrees dit kan ‘n negatiewe uitwerking op die landbousektor hê. Hy het in Ceres in die Wes-Kaap beklemtoon boere, vervaardigers en uitvoerders sal die meeste geraak word. Steenhuisen vra ‘n dringende dialoog met die VSA om nadelige gevolge te voorkom en ‘n sterk handelsvennootskap te handhaaf:
Die Instituut vir Rasseverhoudinge steun intussen die Amerikaanse president, Donald Trump, se onlangse uitvoerende bevel wat die kollig plaas op Suid-Afrika se Wet op Onteiening en die diskriminerende rassebeleid. Die instituut se woordvoerder, Hermann Pretorius, maan die beleid skaad alle burgers omdat dit werkloosheid, ongelykheid en ekonomiese agteruitgang aanvuur. Pretorius sê hoewel Trump die posisie van Afrikaners beklemtoon het, raak die breër uitwerking alle rassegroepe. Hy moedig die Suid-Afrikaanse regering aan om eiendomsregte te beskerm en rassekwotas te beëindig om inklusiewe groei aan te moedig.
# Die EFF sê terwyl hy die lewe van Namibië se eerste president, Sam Nujoma, vier, herbevestig hy sy verbintenis tot die onafgehandelde bevrydingstryd, ekonomiese ongeregtigheid en waardigheid van alle mense in Afrika. Nujoma is Saterdag op 95-jarige ouderdom in ‘n hospitaal in Windhoek dood. Die EFF se nasionale voorsitter, Thembi Msane, sê sy opofferings, van die strydperk tot die politieke arena, weerspieël die stryd van alle bewegings reg oor Afrika.
# Netbal: Engeland het Suid-Afrika in die Copper Box-arena in Londen 61-55 geklop om die eerste keer die Nasiesbeker te buit. Suid-Afrika het flink weggespring en teen die einde van die eerste kwartier 15-12 voorgeloop. Jess Thirlby se span het egter hul sokkies opgetrek en die oorwinning behaal. Uganda het die uitspeelstryd om derde plek gewen deur Malawi 50-45 te klop. Die Protease se afrigter, Jenny van Dyk, sê hulle is teleurgesteld met die uitslag, maar het alles gegee:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-9-sent teen die euro en 22-rand-95-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 97-duisend-670-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-892-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-3-sent per vat.
# En ten slotte: Die bekroonde Hollywood-akteur, Samuel L Jackson, die tennis-ikoon Serena Williams en die musikant SZA was deel van die kletsrymer Kendrick Lamar se rustydvertoning met die Super Bowl in New Orleans. Jackson het Lamar voorgestel terwyl Williams as danseres verras het. SZA het by die 37-jarige kletsrymer aangesluit vir die liedjies Luther en All the Stars. Die kletsrymer het ook sy ander treffers soos Not Like Us, DNA, Peekaboo, Squabble Up en Humble ingesluit. Dit was die eerste keer dat ‘n solo-kletsrymer die hoofvertoning by die Super Bowl was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….