Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die landsvlag hang halfstok ter ere van gesneuwelde Suid-Afrikaanse soldate
# Suid-Korea beveel lughawens om voëlopsporingskameras aan te bring na ‘n dodelike vliegongeluk
# En rugby: Net een verandering aan Italië se span vir sy Sesnasieswedstryd teen Wallis
# President Cyril Ramaphosa het beveel die landsvlag moet vir ‘n week halfstok hang ter ere van die 14 Suid-Afrikaanse soldate wat in die Demokratiese Republiek die Kongo gesterf het. Die soldate is dood in gevegte met Rwandees-gesteunde M23-rebelle in die ooste van die land. Ramaphosa het in sy staatsrede hulde gebring aan die gesneuwelde soldate wat deel was van ‘n vredesending:
# Die Palestine Solidarity Campaign vra dringende optrede teen Israel se aanvalle op Palestyne in die lig van Amerika se omstrede plan vir Gaza. Hulle beskuldig die administrasie van president Donald Trump daarvan dat hulle ‘n volksmoordagenda ondersteun, wat die gedwonge verskuiwing van Palestyne insluit en om Gaza in ‘n luukse oord onder Amerikaanse beheer te omskep. Woordvoerder Martin Jansen versoek internasionale leiers om sulke retoriek te verwerp en ‘n vreedsame, regverdige oplossing vir die Israels-Palestynse konflik na te streef:
# Alle Suid-Koreaanse lughawens sal voëlbespeuringskameras en termiese beeld-radars moet aanbring nadat 179 mense in Desember in ‘n vliegongeluk dood is. Ondersoekers sê hulle kon bewys ‘n voël het teen die Boeing 737-800 vasgevlieg met vere en bloedvlekke wat op albei enjins gevind is. Die ministerie van Grondsake sê voëlbespeurings-radars sal by alle lughawens aangebring word met ten minste een termiese beeld-kamera per lughawe. Gebiede wat voëls lok, soos vullishope naby lughawens is, moet verskuif word.
# Rugby: Italië se afrigter, Gonzalo Quesada, het net een verandering aangebring vir môre se Sesnasieswedstryd teen Wallis in Rome, wat dalk net kan bepaal wie laaste eindig in die kompetisie. Dino Lamb vervang Niccolo Cannone op slot. Die res van die opdrafspan is dieselfde een wat verlede naweek 31-19 teen Skotland verloor het. Lamb se verskuiwing na die bank kan wees omdat Italië se pak nie die oorhand kon kry by die breekpunte nie. Dit het hulle skitterende agterspelers verhoed om Skotland se verdediging te beproef.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-42-sent teen die dollar, 19-rand-14-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-907-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-865-dollar-19-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-72-sent per vat.
# En ten slotte: Die voormalige student van die Universiteit van Johannesburg en nuut-gekroonde Mev Wêreld, Tshego Gaelae, sê sy bly toegespits op haar kerndoelwit van voorspraak in onderwys as stigter van die organisasie sonder winsbejag, We Are Our Children’s Keeper. Gaelae sê die organisasie is verbind tot die verskaffing van skoolskoene en skooldrag vir minderbevoorregte kinders. Die universiteit sê haar toewyding tot die opheffing van gemeenskappe weerspieël die instelling se waardes, uitwerking, hervorming en leierskap.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….