Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 Februarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# TLU SA sê Ramaphosa moet die Onteieningswet onttrek vir hersiening
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake gaan weens die wet nie die G20-beraad bywoon nie
# En Black Sabbath herenig die laaste keer
# Die landbou-organisasie, TLU SA, vra president Cyril Ramaphosa om vanaand tydens sy staatsrede aan te kondig dat die Onteieningswet onttrek en hersien word. Die organisasie se woordvoerder, Bennie van Zyl, sê die wet se toepassing gaan die ekonomie, beleggersvertroue en die land se toekoms benadeel. Hy sê die grootste probleem is nie die beginsel van ʼn Onteieningswet nie, maar die vae definisie van wat openbare belang is:
Die voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, Refilwe Mtsweni-Tsipane, het intussen aangekondig ‘n 19-jarige isiXhosa-lofsanger, digter en kultuuraktivis uit die Oos-Kaap sal Ramaphosa binnelei. Mtsweni-Tsipane sê die Parlement en Brand South Africa het saamgewerk en LP’s word aangemoedig om modes te dra wat plaaslik vervaardig is. Sy hoop die staadsrede sal die ekonomie van Kaapstad ‘n hupstoot gee:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, sê hy gaan nie later die maand die G20-beraad in Suid-Afrika bywoon nie uit verset teen die land se Grondonteieningswet. Rubio sê in ‘n inskrywing op die sosiale media-platform X Suid-Afrika doen baie slegte dinge en onteien privaat eiendom, terwyl hy die G20 gebruik om eensgesindheid, gelykheid en volhoubaarheid te bevorder. Hy sê sy werk is om Amerika se nasionale belange te bevorder en nie belastingbetalers se geld te mors op teen-Amerikanisme nie.
# Motorsport: Die MotoGP-wêreldkampioen, Jorge Martin, kan nie verder deelneem aan voorseisoense toetse in Maleisië nie en sal in Europa geopereer word. Dit volg op ‘n ernstige ongeluk op die eerste dag op die baan in Sepang. Die Spanjaard het sy hand en voet gebreek nadat hy van sy Aprilia-motorfiets geval het. Hy het vroeër die dag ongedeerd weggestap van nog ‘n ongeluk. Martin is nou gewikkel in ‘n stryd om betyds te herstel voor die eerste Grand Prix van die seisoen op 2 Maart in Thailand plaasvind.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 19-rand-35-sent teen die euro en 23-rand-24-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-208-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-855-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-62-sent per vat.
# En ten slotte: Die oorspronklike lede van Black Sabbath sal die eerste keer in 20 jaar saam optree. Ozzy Osbourne, Tony Iommi, Geezer Butler en Bill Ward sal op 5 Julie vir oulaas saamkom vir ʼn fondsinsamelingskonsert in Birmingham, Engeland. Alle wins wat hulle maak, sal gelykop verdeel word tussen Cure Parkinson’s, die Birmingham-kinderhospitaal en Acorn-kinderhospitium. Die groep, wat in 1968 gestig is, word beskou as die peetvader van heavy metal-musiek en het wêreldwyd meer as 75-miljoen albums verkoop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….