Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oos-Kaapse polisie begin met ‘n soektog na verdagtes wat vier mense in Ugie vermoor het
# Nog vier verdagtes is agter tralies vir die Soshanguve-massaskietery
# En, sokker: Liverpool skakel Arsenal uit in die FA-beker met twee laat doele
# Die polisie in die Oos-Kaap het met ‘n soektog begin na die moordenaars van vier mense tussen die ouderdom van 30 en 35 in die provinsie. Die vier is na bewering gisteraand by Ntokozweni naby Ugie in ‘n hinderlaag doodgeskiet. Die aanvallers het met handwapens en gewere op die slagoffers se donkergrys Toyota Avanza losgebrand. Al vier die mans in die voertuig is skynbaar van Engcobo en is op die toneel dood. ‘n Polisiewoordvoerder, Siphokazi Mawisa, sê die motief vir die noodlottige aanval is nog nie bekend nie:
Nog vier verdagtes is intussen aangekeer in verband met die moord op vier mense, waaronder ‘n 14-jarige meisie, in Soshanguve op Nuwejaarsdag. Die span van die Valke in Pretoria het oor die naweek onvermoeid gewerk aan ‘n intelligensie-gedrewe operasie om die verdagtes aan te keer. Die woordvoerder van die Valke, Thandi Mbambo, sê die skuldiges – drie mans en ‘n vrou – is Saterdagaand in verskeie deel van Pretoria aangekeer. Dit bring die aantal mense wat aangehou word op ses te staan:
# Die kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, Edward Kieswetter, sê dwelmsmokkelaars moet weet dat die inkomstediens se doeane-afdeling sonder aansien des persoons optree teen enigiemand wat by die dwelmhandel betrokke is. Dít nadat doeanebeamptes by die vragafdeling van die OR Tambo Internasionale Lughawe in Kempton Park, Ekurhuleni, beslag gelê het op 23 kilogram dwelms ter waarde van 37-miljoen rand, wat vermom was kunswerk. Die doeanebeamptes was op inspeksierondtes toe hulle op ‘n houer afgekom het wat vir Nieu-Seeland gemerk was. Die houer het gegote kunswerke bevat wat verdag voorgekom het.
# Bangladesj se eerste minister, Sheikh Hasina, is herkies vir nog ‘n termyn te midde van ‘n boikot gelei deur die opposisie, die Bangladesj Nasionalistiese Party. Met slegs ‘n opkoms van 40 persent aangeteken, het die Verkiesingskommissie vanoggend aangekondig dat Hasina se regerende party, die Awami-liga, byna 75-persent van die setels gewen het, wat ‘n vyfde termyn verseker het. Hasina het haar beywer vir vinnige ekonomiese groei, maar haar regering word beskuldig van menseregtevergrype en ‘n onderdrukking van die opposisie.
# Sokker: Liverpool het twee keer na aan die einde van hul kragmeting met Arsenal in die Emirates-stadion die doelhok gehaal en met 2-0 na die vierde ronde van die FA-beker-toernooi deurgedring. Arsenal het duur betaal vir verskeie verbeurde kanse om doele aan te teken. Hul oorwinning is in die laaste sekondes van die wedstryd verseël met ‘n doel van Luis Diaz wat die bal by Arsenal se doelwagter, Aaron Ramsdale, verbygestuur het. Liverpool se bestuurder, Jürgen Klopp, het sy tevredenheid met sy span uitgespreek:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-78-sent teen die dollar, 20-rand-53-sent teen die euro en 23-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-86-dollar-36-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-29-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 77-dollar-99-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….