Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die Onteieningswet is ’n aanval op eiendomsreg
# Gholf: Scottie Scheffler is opgewonde oor sy terugkeer na die PGA-toernooi
# En die Suid-Afrikaner Tyla maak geskiedenis op die Billboard Hot 100
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê president Cyril Ramaphosa se bekragtiging van die Onteieningswet is ‘n regstreekse aanval op eiendomsregte in Suid-Afrika. Die wet stel die regering onder meer in staat om grond by individue en sakeondernemings te vat sonder om daarvoor te betaal. Hermann Pretorius van die IRV sê hulle beraadslaag met hul regspan om die wet op grond van ongrondwetlikheid uit te daag:
# Die DA in die Wes-Kaap vra die minister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Dion George, om die jongste inligting bekend te maak oor die onlangse oliestorting tussen Houtbaai en Kommetjie in Kaapstad. Die storting het minstens 19 ernstig bedreigde Afrika-pikkewyne besmet. ʼn DA-woordvoerder, Dave Bryant, sê dis noodsaaklik dat die bron van die storting so gou moontlik identifiseer word om enige verdere bedreiging vir die natuurlewe te voorkom:
# Twee Colombiaanse militêre vliegtuie met sowat 200 burgers wat uit Amerika gedeporteer is, het in Bogotá aangekom na ‘n onverkwiklike woordestryd oor die deportasie van migrante. President Gustavo Petro het foto’s geplaas van die migrante wat sonder boeie van die vliegtuig stap, en geskryf: “Hulle is Colombiane, vry en waardig, in hul vaderland waar hulle geliefd is.” Petro het Sondag byna ʼn volwaardige handelsoorlog met Amerika ontketen, maar besgegee nadat president Donald Trump hom met sanksies en swaar tariewe gedreig het nadat twee Amerikaanse militêre vliegtuie met migrante teruggestuur is.
# Gholf: Die wêreld-nommer-een, Scottie Scheffler, sê hy is opgewonde om weer aan ‘n toernooi deel te neem, want dis frustrerend om nie te kan speel nie. Die Amerikaner het sy regterhand seergemaak toe hy gehelp het om Kersete voor te berei, en moes geopereer word. Hy en Rory McIlroy maak hierdie week hulle eerste verskyning in ʼn PGA-toernooi vanjaar as deel van ʼn sterbelaaide groep in die AT&T Pebble Beach Pro-Am in Kalifornië. Scheffler sê hy geniet die Pebble Beach-baan:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-67-sent teen die dollar, 19-rand-47-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-695-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-750-dollar-40-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-36-sent per vat.
# En ten slotte: Die Grammy-bekroonde sangeres Tyla het die eerste vroulike Suid-Afrikaanse kunstenaar in 57 jaar geword wat twee solo-inskrywings op die Amerikaanse Billboard Hot 100 gehaal het. Haar treffersnitte, Water en Push 2 Start, beteken sy is die tweede vroulike kunstenaar in Afrika wat sedert Miriam Makeba op die trefferslys beland. Tyla se liedjies het nommer sewe en 88 gehaal. Ander Suid-Afrikaners wat die Amerikaanse Billboard gehaal het, is Four Jacks and a Jill, wyle Hugh Masekela, en die Rock-groep Seether.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….