Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu vra meer toegewyde aandag aan die verdiepende krisis in die DRK
# Jasprit Bumrah word aangewys as die Internasionale Krieketraad se toetsspeler van 2024
# En 19 Afrika-pikkewyne word gerehabiliteer na ‘n oliestorting in Kaapstad
# Cosatu vra meer toegewyde aandag aan die verdiepende krisis in die Demokratiese Republiek die Kongo, wat die vooruitsigte ondermyn vir ontwikkeling in Afrika. Nege Suid-Afrikaanse Nasionale Weermaglede, wat deel was van die Verenigde Nasies se vredesmag in die ooste van die DRK, het verlede week gesneuwel in ‘n botsing met die Rwandees-gesteunde M23-rebelle. Zanele Sabela van Cosatu sê werkers, veral in Afrika, moet verenig teen oorloë, die plundering van minerale, korrupsie en ondemokratiese regering:
# AfriForum vra die minister van Finansies, Enoch Godongwana, om enige oorweging te laat vaar om belastingkrediete op mediese fondsbydraes in die 2025/26-boekjaar te skrap. Die minister sal volgende maand sy begrotingsrede lewer. Louis Boshoff van AfriForum sê voorstelle dat die Nasionale Tesourie belastingkrediete op mediese fondse wil skrap en hulle gebruik om te help om die Nasionale Gesondheidversekering te befonds, is onregverdigbaar:
# Bouwerk het begin aan die eerste fase van die houerterminaal-uitbreiding ter waarde van drie-miljard-rand op die hawe van Maputo in Mosambiek. Die projek het ten doel om die hawe te posisioneer as ‘n belangrike versendingspilpunt en sal na verwagting sy vermoë verdubbel. Sleutelopgraderings sluit in ‘n groter opgaarwerf, ‘n kaai van 650-meter, en dieper ankerplekke om na-Panamax-vaartuie te hanteer. Die uitbreiding sal na verwagting streekshandel ondersteun, veral die uitvoer van sitrusvrugte. Dit sal ook werk skep en kostes verminder. Teen 2026 sal Maputo ‘n toonaangewende versendingspilpunt wees.
# Die Internasionale Krieketraad het die Indiese snelbouler Jasprit Bumrah aangewys as die mans-toetsspeler vir 2024. Die 31-jarige het gevrees sy loopbaan is verby na ‘n langdurige rugbesering, maar het laat in 2023 na die langste formaat teruggekeer en was verlede jaar die voorste paaltjienemer. Hy het 71 slagoffers geëis teen ‘n gemiddeld van 14.92. Bumrah sê toetskrieket was nog altyd sy gunstelingformaat. Die veelsydige Azmatullah Omarzai van Afganistan is aangewys as die IKR se eendag-speler vir 2024.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-81-sent teen die dollar, 19-rand-62-sent teen die euro en 23-rand-39-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 102-duisend-856-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-738-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-63-sent per vat.
# En ten slotte: Die 19 Afrika-pikkewyne wat gered is na ‘n oliestorting tussen Houtbaai en Kommetjie in Kaapstad word tans gerehabiliteer. Die bron van die storting is nog onbekend, maar die pikkewyne was glo ondervoed en gespanne. Daily Marverick berig die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls lei die rehabilitasie, wat insluit dat hulle gewas en hulle waterdigtheid herstel word. Pogings word voortgesit om die bedreigde voëls skoon te maak en vry te laat om die uitwerking van oliebesoedeling op die natuurlewe teen te werk.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….