Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die VF Plus gaan die nuwe Onteieningswet in die Konstitusionele Hof uitdaag
# NSFAS praat oor uitstaande betalings aan huisvesting-diensverskaffers
# En, tennis: Alexander Zverev dring deur na sy eerste Australiese Ope-eindwedstryd nadat Novak Djokovic weens ‘n besering onttrek
# Die Vryheidsfront Plus sê hy gaan as lid van die regering van nasionale eenheid alles in sy vermoë doen om ‘n wysigingswetsontwerp te laat uitreik om die Onteieningswet se grondwetlikheid uit te daag. Die wet sit uiteen hoe staatsinstellings om verskeie redes grond in openbare belang mag onteien. Die VF Plus se leier, Pieter Groenewald, sê die wet is nadelig vir eienaars en tot voordeel van die onteieningsowerheid. Hy sê hulle gaan die Konstitusionele Hof nader:
Die Kaapse Onafhanklikheidsgroep sê intussen die Onteieningswet is ʼn regstreekse aanslag op basiese eiendomsreg wat noodsaaklik is vir ʼn lewenskragtige vryemark-ekonomie. ʼn Woordvoerder van die groep, Joan Swart, sê deur die staat toe te laat om bates sonder vergoeding te gryp, ondermyn die vertroue wat beleggers in Suid-Afrika se ekonomiese bestendigheid het:
# Die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente sê hy praat met die Privaat Studentebehuisings-vereniging oor uitstaande huisvestings-betalings. Die vereniging, wie se lede huisvesting voorsien aan meer as 80-duisend studente oral in die land, het onthul die skema skuld sy lede 44-miljoen-rand. NSFAS se woordvoerder, Ishmael Mnisi, sê hulle het die vereniging gevra om ‘n lys van die betrokke verskaffers en studente te voorsien sodat die probleem onmiddellik opgelos kan word:
Die Universiteit van die Witwatersrand ontken intussen bewerings dat hy weier om studente met geldelike probleme te help. Dit volg nadat sommige Studenteraadslede die universiteit daarvan beskuldig het. ‘n Woordvoerder, Sharona Patel, sê die SR-lede is ongelukkig oor die kriteria wat hulle gebruik om studente by te staan. Sy sê hulle administreer jaarliks meer as ‘n miljard-rand se finansiële hulp in beursskemas. Dit sluit in die universiteit se eie fondse asook eksterne bronne, finansiële hulpinstellings en individuele en korporatiewe skenkers.
# Tennis: Die wêreld-nommer-twee, Alexander Zverev, is deur na sy eerste eindstryd op die Australiese Ope nadat die tienmalige kampioen, Novak Djokovic, in die halfeindronde weens ʼn besering moes onttrek. Die Duitser, wat sy eerste Grand Slam-titel wil wen, het die eerste stel gewen voordat die Serwiër moes tou opgooi. Zverev speel in die eindstryd teen die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner van Italië, of Ben Shelton van Amerika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-34-sent teen die dollar, 19-rand-22-sent teen die euro en 22-rand-75-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 105-duisend-254-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-771-dollar-3-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-51-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….