Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In hierdie bulletin:
# AfriForum verwerp die regering se plan vir ‘n transformasiefonds van 100-miljard-rand
# Die Vereniging van Staatsamptenare vra die minister van Hoër Onderwys om ongeregverdigde universiteitsaansoekfooie af te skaf
# En tennis: Iga Swiatek en Madison Keys dring deur na die halfeindronde van die Australiese Ope
# AfriForum beskryf die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, se voorgestelde transformasiesfonds van 100-miljard-rand as rassediskriminasie. Die fonds is geoormerk om swart sakeondernemings te ondersteun met billikheidsfondse, skuldverligting en toelaes. Dit sal deur die privaat sektor gefinansier word. Ernst van Zyl van AfriForum sê hulle het ‘n versoekskrif van stapel gestuur waar die publiek kan eis dat die regering sy diskriminerende ras-wette laat vaar:
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die betaling van universiteitsaansoekfooie wat lei tot ‘n uitermatige wins vir die instellings selfs al word die aansoeke afgekeur. Een universiteit het glo meer as 600-duisend aansoeke ontvang en elke aansoeker het ‘n fooi van 200-rand betaal. Die universiteit het dus ‘n wins van 150-miljoen-rand gemaak. Die vereniging se woordvoerder, John Teffo, sê die minister van Hoër Onderwys, Nobuhle Nkabane, moet die nie-terugbetaalbare aansoekfooi afskaf en studente toelaat om gratis by die universiteite aansoek te doen:
# Die rooibosbedryf is aan die voorpunt van Suid-Afrika se groei in die globale kruiemark, met uitvoere van rooibostee wat geleidelik toeneem. Volgens die woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad, Adéle du Toit, is die groeiende gewildheid van die tee in markte soos Europa, Amerika en Asië ‘n bewys van sy gesondheidsvoordele. Du Toit glo rooibos het die potensiaal vir voortgesette groei, tot voordeel van die ekonomie en werkskepping in die Wes-Kaap, waar dit hoofsaaklik verbou word:
# Pole se eerste minister, Donald Tusk, het landsburgers in Amerika gevra om huis toe te kom en beloof om dit te bemiddel nadat Donald Trump ingehuldig is as president. Trump het beloof om miljoene ongedokumenteerde migrante uit Amerika te sit. Die regering in Warskou sê byna 10-miljoen Amerikaners het in 2012 verklaar hulle het Poolse agtergronde, wat dit die land se grootste diaspora in die buiteland maak. Tusk het Poolse konsulate opdrag gegee om voor te berei vir die moontlike gevolge van die nuwe Amerikaanse administrasie se besluite wat Poolse burgers raak.
# Tennis: Die vyfmalige Grand Slam-kampioen, Iga Swiatek van Pole, het slegs 14 potte afgestaan onderweg na haar tweede Australiese Ope-halfeindstryd. Die wêreld-nommer-twee het die Amerikaner Emma Navarro in die kwarteindronde verslaan en speel môre teen nog ‘n Amerikaner, Madison Keys, vir ‘n plek in die eindstryd. Keys het haar derde halfeindstryd in Melbourne gehaal met ‘n oorwinning in drie stelle oor Elina Svitolina van Oekraïne. In die ander halfeindstryd pak die wêreld-nommer-een, Aryna Sabalenka van Belarus, die Spanjaard Paula Badosa.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-52-sent teen die dollar, 19-rand-29-sent teen die euro en 22-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-993-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-750-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-35-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….