Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Parlementêre portefeuljekomitee gaan Suid-Afrikaanse banke se uitleenpraktyke ondersoek
# Die voormalige Pakistanse premier Imran Khan word tot 14-jaar tronkstraf gevonnis
# En, tennis: Aryna Sabalenka wen ‘n taai stryd en vorder na die vierde ronde in Melbourne
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging en die Finansiële komitee gaan volgende maand met groot banke vergader om uitleenpraktyke te hersien. Die voorsitter, Mzwandile Masina, beklemtoon daar is kommer oor die makliker toegang tot verbruikerskrediet teenoor produksielenings, en sê hierdie benadering ontmagtig gemarginaliseerde gemeenskappe. Banke, insluitend ABSA, FNB en Capitec, het hul bywoning bevestig. Onderwerpe sluit in deursigtigheid, renteberekenings en ekonomiese inklusiwiteit. Die toesigpogings het ten doel om te verseker die finansiële sektor ondersteun hervorming en beskerm kwesbare verbruikers.
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Hoër Onderwys doen ‘n beroep op die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente om te verseker hierdie jaar se befondsingsaansoeke word akkuraat verwerk en te sorg dat slegs kwalifiserende studente ondersteuning ontvang. Die komitee se voorsitter, Tebogo Letsie, het kommer uitgespreek oor die bekendmaking van 2024 se matriekuitslae wat vertraag is en waarsku dit kan die begin van die akademiese jaar ontwrig:
# Die polisie in Mpumalanga het vyf verdagtes in hegtenis geneem in verband met die moord op luitenant-kolonel Piet Pretorius. Die 59-jarige polisieman is gister in Ermelo doodgeskiet terwyl hy ‘n staatsvoertuig bestuur het. Polisiewoordvoerder Jabu Ndubane sê ‘n voertuig wat na bewering in die misdaad gebruik is, is vanoggend uitgebrand aangetref naby Uitbreiding 7 in die dorp:
# ‘n Hof in Pakistan het die voormalige premier, Imran Khan, en sy vrou, Bushra Bibi, in ‘n geskiedkundige omkoopsaak skuldig bevind en Khan tot 14 jaar tronkstraf gevonnis. Hy word sedert Augustus 2023 aangehou en van sowat 200 sake aangekla, maar sy party hou vol die jongste skuldigbevinding is om hom stil te maak. Die teenkorrupsiehof het gesit in die gevangenis naby die hoofstad, Islamabad, waar Khan aangehou word. Hy en sy vrou is skuldig bevind oor ʼn welsynstigting wat hulle saam tot stand gebring het.
# Tennis: Die verdedigende vrouekampioen, Aryna Sabalenka, het deurgedring na die vierde ronde van die Australiese Open en sit haar poging voort vir ‘n derde agtereenvolgende titel op Melbourne Park. Die 26-jarige Belarus het die 42ste op die wêreldranglys, Clara Tauson van Denemarke, geklop. Die 11de-gekeurde Paula Badosa van Spanje het Marta Kostyuk van Oekraïne verslaan. Daar was ook oorwinnings vir Donna Vekic van Kroasië en die Rus Anastasia Pavlyuchenkova. In die mansafdeling het die Amerikaner Tommy Paul vir Roberto Carballes Baena van Spanje verslaan.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-27-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-794-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-710-dollar-36-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-61-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….