Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 10 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu verwelkom die regering se Arbeidsaktiveringsprogram
# Die Poolse president versoek die regering om nie Israelse premier by Auschwitz-herdenking te arresteer nie
# En, tennis: Coco Gauff sê om koelkop te bly in moeilike oomblikke sit agter haar rits goeie vertonings
# Cosatu verwelkom die regering se Arbeidsaktiveringsprogram, wat gemik is op die aansporing van werkskepping. Die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazana Meth het kontrakte van 651-miljoen-rand met 12 vennote van die program onderteken. Matthew Parks van Cosatu sê hulle glo vas die skepping van gehalte en volhoubare werksgeleenthede is ‘n hoeksteen van ekonomiese groei en maatskaplike stabiliteit in die land:
# Die Valke het drie verdagtes in hegtenis geneem wat glo met ‘n mensehandelsindikaat verbind word. Dit volg na die polisie 15 ongedokumenteerde Ethiopiese burgers gered het wat teen hulle wil in ‘n huis in Lombardy-Oos in Johannesburg aangehou is. Elf is in die hospitaal opgeneem terwyl 30, wat glo naak was, Donderdagaand ontsnap het. Die Valke se woordvoerder, Philani Nkwalase, sê ‘n voorlopige ondersoek het bevind die slagoffers het ‘n venster en diefwering oopgebreek en ontvlug:
# Die president van Pole, Andrzej Duda, versoek die regering om nie die Israelse eerste minister, Benjamin Netanyahu, in hegtenis te neem nie indien hy later die maand die herdenking van die bevryding van Auschwitz bywoon. Die Internasionale Strafhof het in November ‘n lasbrief vir Netanyahu se arrestasie uitgereik oor die Gaza-oorlog, tot groot verontwaardiging van Israel en sy bondgenote. Pole is ‘n ondertekenaar van die Strafhof en gevolglik moet hy Netanyahu in hegtenis neem indien hy die seremonie bywoon, 80 jaar nadat die Russiese weermag Auschwitz-Birkenau, die doodskamp van Nazi-Duitsland, ontset het.
# Tennis: Coco Gauff sê om koelkop te bly in moeilike oomblikke is die rede vir haar skitterende onlangse vertonings wat haar ʼn groot bedreiging maak vir die wêreld nommer een, Aryna Sabalenka, by die Australiese Ope. Die 20-jarige Gauff, derde op die ranglys, het 2024 baie suksesvol afgesluit met oorwinnings in die China Ope en die vroue se jaareindtoernooi. Sy het daardie spelpeil voortgesit deur al haar enkelspelwedstryde by die United-beker te wen. Dit sluit in ‘n oorwinning in skoon stelle oor wêreld nommer twee, Iga Swiatek, om Amerika die beker te laat wen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-30-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-627-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-679-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-32-sent per vat.
# Vandag is Eiesoortige Mensedag, wat die uniekheid en diversiteit van indiwidue vier. Eiesoortige mense is diegene wat nie aan wêreld se standaarde konformeer nie en weier om hulle aan onregverdige en verkeerde reëls te onderwerp. Hulle leef volgens hulle eie waardes en inspireer mense om teen ongeregtigheid op te staan. Mense word op die dag aangemoedig om hulle eie eienaardighede te omhels en andere se geite te vier.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….