Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Chikunga vra sosiale samehorigheid om geslagsgeweld te beëindig
# Motorsport: ‘n Nuwe F1-ooreenkoms met België maak nuwe wedrenne moontlik
# En, Kaapstadse bestuurders het in 2024, 94 uur verloor weens verkeersopeenhopings
# Die minister in die presidensie vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestemdhede, Sindisiwe Chikunga, is bekommerd oor die voortslepende geslagsgeweld en vrouemoord in die land. Sy veroordeel die moord op Shana Balie, wat na bewering op Kersdag in Wallacedene, Kraaifontein, deur haar kêrel, Jonathan Gewind, vermoor is. Hy het erken dat hy die moord gepleeg het. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, sê sosiale samehang is nodig om geslagsgeweld te beëindig:
# Inwoners van KwaZulu-Natal word versoek om versigtig te bly aangesien die gure weer na verwagting sal voortduur. Die provinsie is reeds geteister deur hewige storms waarin elf sterftes aangeteken is en aansienlike skade aan infrastruktuur gedoen is, insluitend 370 huise wat verwoes is. Die algehele skade is na raming 411-miljoen-rand. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake se woordvoerder, Senzelwe Mzila, sê wydverspreide kragonderbrekings en padontwrigtings kom steeds voor:
# Die Amerikaanse president Joe Biden het sy eerste agterkleinkind verwelkom nadat sy oudste kleindogter Woensdag in Kalifornië geboorte geskenk het aan ‘n baba. Die 31-jarige Naomi Biden Neal en haar man, Peter Neal, het hulle eerste kind verwelkom – ‘n seun met die naam William Brannon Neal die Vierde. Die nuweling deel ‘n naam met Neal se broer, wat in 2009 in ‘n ongeluk dood is. Biden is die eerste sittende president wat ‘n oupagrootjie word terwyl hy in die pos dien.
# Motorsport: Die Belgiese Grand Prix het ‘n ooreenkoms aangegaan sodat hulle vanaf 2026-2031 vir vier uit ses jaar op die Formule 1-kalender bly in ‘n nuwe soort rotasie-ooreenkoms om plek te maak vir nuwe wedrenne. Die ooreenkoms beteken die geskiedkundige Spa-Francorchamps sal nie in 2028 en 2030 ‘n gasheer wees nie. België word deur ‘n ander wedren vervang, hoewel die besonderhede van watter bane dit sal wees, bevestig moet word. Frankryk en Duitsland verskyn nie op die 2025-kalender nie en albei probeer terugkeer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-95-sent teen die dollar, 19-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-37-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-23-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-662-dollar-12-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-85-sent per vat.
# Ten slotte: Kaapstadse bestuurders het in 2024 94 uur verloor weens verkeersopeenhopings, wat dit een van die mees oorlaaide stede ter wêreld maak. Die aantal ure het na wat berig word versleg van 83 ure in 2023. Volgens die 2024 Globale Verkeerstelkaart deur INRIX, lig die syfer die uitdaging uit van pendel na sentrale sakedistrikte, met spitsverkeerstye wat produktiwiteit aansienlik raak. Om dit te verlig, sê die Stad Kaapstad hy sal fokus op die uitbreiding van die MyCiTi-busroetes, die verbetering van pendelaartreindienste en die opgradering van belangrike paaie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….