Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma eis die herinstelling van sy ANC-lidmaatskap
# Tennis: Jessica Pegula en Emma Navarro deur na die kwarteindstryd in Adelaide
# En Eswatini en Mpumalanga is op CNN Travel se lys van 25 plekke om in 2025 te besoek
# Die voormalige president Jacob Zuma se prokureurs het ‘n eisbrief geskryf aan die ANC, wat die herinstelling van sy lidmaatskap teen 31 Januarie vra. In November verlede jaar het die party se nasionale dissiplinêre appèlkomitee die besluit van die nasionale dissiplinêre komitee bevestig om Zuma uit te skop. Hy is geskors omdat hy die party se reputasie geskend het deur ‘n mededingende party, MK, te stig en te lei. Die Jacob Zuma-stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, sê hulle het prosedurele en wesenlike bekommernisse oor die ANC se prosesse:
# Build One South Africa sê hy het die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, amptelik versoek om in te gryp by die verslegtende politieke krisis in Mosambiek. Die land loop sedert die verkiesing deur onder geweld. BOSA se woordvoerder, Roger Solomons, sê Mmusi Maimane het ‘n brief van die leier van Mosambiek se opposisieparty, Venancio Mondlane, ontvang waarin hy vrese oor sy veiligheid uitspreek. Mondlane beplan om môre na sy tuisland terug te keer:
# Die opening van die Grootdraaidam se sluise in Mpumalanga het groot verligting gebring vir die Vaaldam wat van Desember af op net 25-persent van sy kapasiteit gestaan het. Die invloei van water, veroorsaak deur swaar reën, sal na verwagting die vlak van die Vaaldam ‘n hupstoot gee. Die dam is ‘n noodsaaklike deel van die Geïntegreerde Vaalrivierstelsel, wat water verskaf aan Gauteng. Die provinsie is tans onder vlak een waterbeperkings, omdat waterverbruik skerp gestyg het, met daaglikse gebruik wat nagenoeg 270-liter per persoon bereik het – veel meer is as die teiken van 175-liter.
# Tennis: Jessica Pegula het net vyf potte afgestaan voor sy klaargespeel het met Maria Sakkari by die Adelaide Internasionale toernooi. Sy begin haar seisoen enkele dae voor die Australiese Ope. Die topgekeurde en Amerikaanse Ope-finalis, het ‘n loslootjie gehad in die eerste ronde. Pegula het die Griekse voormalige wêreld nommer drie met 6-4, 6-1 van die baan gevee. Haar Amerikaanse landgenoot en tweede gekeurde, Emma Navarro, wat agtste op die wêreldranglys is, het ‘n taai stryd agter die rug nadat dit twee ure geneem het om Ekaterina Alexandrova met 7-6 en 6-4 te klop.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-40-sent teen die euro en 29-rand-40-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-645-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-651-dollar-2-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-28-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Eswatini en die Mpumalanga-provinsie het CNN Travel se lys van 25 bestemmings om vanjaar te besoek, gehaal. Mpumalanga se Blyderivier-canyon, die derde grootste in die wêreld, word as ʼn hoogtepunt aanbeveel. Eswatini se Sibebe-rots, die wêreld se grootste ontblote graniet-plutoon, bied ʼn uitdagende maar bevredigende uitstappie. Ander plekke wat die lys gehaal het, sluit in Almaty in Kasakstan, Chemnitz in Duitsland en Gdansk in Pole.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….