Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 7 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA vra vir dringende hervorming van Suid-Afrika se nywerheidsbeleid
# Tennis: Verdedigende kampioen Jelena Ostapenko bereik die laaste 16 in Adelaide
# En, SA musikante Tyla en Makhadzi benoem vir die Trace-toekennings
# ActionSA vra ‘n omvattende hersiening en hervorming van Suid-Afrika se nywerheidsbeleide om seker te maak dis op bewyse gebaseer en in staat om die land se ekonomiese probleme te hanteer. Dit volg na die aankondiging dat ArcelorMittal sy bedrywighede in Newcastle en Vereeniging gaan sluit wat tot die verlies van drie-duisend-500 werksgeleenthede kan lei. Alan Beesley van ActionSA sê ArcelorMittal se besluit herinner aan die tekortkominge in Suid-Afrika se nywerheid- en ekonomiese beleide:
# AfriForum moedig die Suid-Afrikaanse Grensbestuursowerheid en wetstoepassingsagentskappe aan om pogings te verskerp teen mense wat die grens tussen Mosambiek en Suid-Afrika onwettig oorsteek. Mosambiek loop deur onder geweld en ontwrigtende betogings ná sy omstrede verkiesing in Oktober verlede jaar. Jacques Broodryk van AfriForum sê Suid-Afrika moet ʼn veelvlakkige benadering toepas om die krisis te hanteer. Dit sluit in dat sekerheid by alle grensposte verskerp word:
# Verkope van nuwe battery-aangedrewe motors het verlede jaar in Duitsland met 27,4-persent gedaal, met die land se vlagskip-motorbedryf wat in ‘n krisis gedompel is. Daar is verlede jaar 2,8- miljoen nuwe voertuie geregistreer, maar slegs 380-duisend-609 was elektriese voertuie, dus ‘n markaandeel van 13,5-persent. Die aanvraag na battery-aangedrewe motors in Duitsland het ná jare se groei sy momentum verloor met die onttrekking van staatsubsidies aan die einde van 2023. Hoë pryse vir nuwe elektriese modelle, onbetroubare infrastruktuur vir die laai van motors en afstandsbeperkings is van die redes waarom baie verbruikers nie hierdie motors gekies het nie.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Jelena Ostapenko, het ‘n stel nodig gehad om aan die gang te kom, maar was daarna op dreef en het Magdalena Frech met 4-6, 6-1, 6-1 verslaan by die Adelaide Internasionaal. Die 17de gekeurde Letlander, wat in 2017 die Roland Garros-grand slam gewen het, speel in die laaste 16 teen Madison Keys by die opwarmingstoernooi in aanloop tot die Australiese Ope. Die Amerikaner Keys het Beatriz Haddad Maia van Brasilië, wat vier plekke bo haar op die ranglys is, met 6-2, 6-1 afgeransel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-36-sent teen die euro en 23-rand-32-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 101-duisend-694-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-89-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-90-sent per vat.
# Om mee af te sluit: Die Suid-Afrikaanse musikante, Tyla, Kabza The Small, en Makhadzi, is benoem vir die Trace Awards and Summit 2025. Die seremonie, wat beskou word as een van die toonaangewendste musiekgeleenthede op die Afrika-vasteland, vind volgende maand in Zanzibar plaas. Tyla se Jump is benoem as liedjie van die jaar, en Makhadzi ding mee in die kategorie vir beste danser. Kunstenaars uit meer as 30 lande in Afrika, Suid-Amerika, die Karibiese Eilande, die Indiese Oseaan en Europa neem in 24 kategorieë deel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….