Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Januarie 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ATM sê ekonomiese ontberinge verhoog gereeld die risiko van tienerswangerskappe
# Suid-Afrika keur ‘n 150-persent belastingaansporing goed vir elektriese voertuigvervaardigers
# En, krieket: Indië se kaptein onttrek homself aan die laaste toets teen Australië
# Die African Transformation Movement sê hy is diep bekommerd oor die onrusbarende toename in die land se tienerswangerskappe. ‘n Dertienjarige meisie het op Kersdag geboorte geskenk, en ‘n 12-jarige op Nuwejaarsdag. Zama Ntshona van die ATM sê ekonomiese ontberinge verhoog dikwels die gevaar van tienerswangerskappe. Hy voeg by jong meisies kan onder druk voel om in verhoudings wat finansiële ondersteuning bied betrokke te raak, en dit kan tot onbeplande swangerskappe lei:
# Suid-Afrika het met ingang Maart 2026 ‘n belastingaansporing van 150-persent vir vervaardigers van elektriese en waterstofvoertuie ingestel. Volgens News24 is hierdie inisiatief gemik op die oorgang van die motorbedryf oor die volgende dekade. ’n Beleggingstoelae van 500-miljoen-rand is vir die belastingjaar 2026/2027 vasgestel. Vervaardigers wat in nuwe infrastruktuur en toerusting vir die vervaardiging van elektriese of waterstofaangedrewe voertuie belê, sal kwalifiseer. Dit sal plaaslike produksie bevorder en groenenergie-innovering ondersteun.
# Suid-Korea se teenkorrupsie-ondersoekers het vandag versuim om die land se beskuldigde president Yoon Suk Yeol in hegtenis te neem ná ‘n dooiepunt van bykans vyf ure met die presidensiële veiligheidsdiens. Ondersoekers het Yoon se ampswoning verlaat nadat hulle verhoed is om die huis binne te gaan. ‘n Hof in Seoul het op 31 Desember ‘n inhegtenisnemingsbevel uitgereik nadat Yoon talle versoeke verontagsaam het om hom vir ondervraging aan te meld. Die ondersoekers sê sy kortstondige verklaring van krygswet op 3 Desember kom neer op ‘n rebellie.
# Krieket: Die Indiese kaptein, Rohit Sharma, is ‘n toeskouer by die laaste toets teen Australië in Sydney na ʼn bedroewende tydjie met die kolf. Die 37-jarige kon slegs 31 lopies in vyf beurte in die reeks bymekaar skraap. Waarnemende kaptein Jasprit Bumrah hou vol Rohit het self besluit, maar baie vermoed sy loopbaan is waarskynlik verby. Indië is 2-1 agter met een wedstryd onbeslis en moet op die SCG wen om die reeks te deel en hulle aanspraak te behou om in Junie in die eindstryd van die Wêreldtoetskampioenskap teen Suid-Afrika op Lord’s te speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 19-rand-23-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 96-duisend-411-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-652-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-79-sent per vat.
# Ten slotte: Die Brand-en-reddingsdiens in Kaapstad het in Desember ‘n rekord opgestel toe hulle binne slegs 20 dae met die geboorte van vyf babas gehelp het. Die Mfuleni- en Houtbaai-brandweerstasie het twee geboortes elk hanteer, terwyl die vyfde ‘n tweeling in Gugulethu was. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê in daardie drie weke moes brandbestryders honderde voorvalle hanteer:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….