Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die polisie is gereed vir jaareindvierings
# Sokker: AC Milan het weer ‘n nuwe hoofafrigter na net ses maande
# En Angelina Jolie en Brad Pitt bereik uiteindelik ‘n egskeidingsooreenkoms na agt jaar
# 2024 se sand is besig om vinnig uit te loop en adjunkminister Cassel Mathale gee die versekering dat die polisie voorbereid is op misdade wat met die Nuwejaarsvierings verband hou. Hy het tydens ‘n feestyd-operasie by die Mall of Africa in Midrand, Gauteng, gepraat. Mathale het inwoners versoek om waaksaam te bly te midde van ‘n verwagte toename in rooftogte en motorkapings:
Die wetstoepassingspanne van die Stad Kaapstad is intussen slaggereed vir Oujaarsaand, met meer as 35-duisend mense wat by die vuurwerkvertoning by die Waterkant verwag word. Die stad waarsku vuurwerke sonder ’n permit is verbode. Boonop word motoriste gewaarsku oor moontlike opeenhopings op paaie. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, vra inwoners om verantwoordelik fees te vier:
# Die Amerikaanse oudpresident Jimmy Carter se staatsbegrafnis sal op 9 Januarie plaasvind in Washington se nasionale katedraal, as deel van die nasionale dag van rou vir die langs-lewende gewese staatshoof. Die wêreldberoemde filantroop is Sondag in die ouderdom van 100 oorlede. President Joe Biden het opdrag gegee nasionale vlae moet 30 dae lank halfstok hang. Die periode sluit ook die inhuldiging van die verkose president, Donald Trump, in. Carter sal begrawe word op sy familie se eiendom langs sy vrou, Rosalynn, wat ‘n jaar gelede op 96 oorlede is.
# Sokker: AC Milan het weer ‘n nuwe hoofafrigter na net ses maande. Dit volg nadat die Portugees Paulo Fonseca gister afgedank is. Die Italiaanse span is tans agste in die Serie A-kompetisie nadat hy slegs twee van sy laaste sewe wedstryde kon wen. Fonseca het Stefano Pioli in Junie vervang nadat die Italianer AC in 2022 tot sy enigste liga-titel gelei het. Die span het in sy laaste seisoen tweede geëindig na Inter Milan. Porto se gewese breier, Sergio Conceicao, vervang Fonseca tot 30 Junie 2026.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-71-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-49-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-760-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-614-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-39-sent per vat.
# En ten slotte: Angelina Jolie en Brad Pitt het na agt jaar uiteindelik ‘n skikking bereik in een van Hollywood se langste en bitterste egskeidings. Hofdokumente is nog nie ingedien nie, en ‘n regter sal die ooreenkoms moet bekragtig. Die 49-jarige Jolie en die 61-jarige Pitt was eens 12-jaar lank een van Hollywood se vooraanstaande egpare. Die twee Oscarwenners, bekend as “Brangelina”, het ses kinders. Jolie het in 2016 aansoek gedoen om ‘n egskeiding na ‘n vlug op ‘n privaat straler waartydens sy sê Pitt het haar en hulle kinders afgeknou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….