Nuus 12:00
BULLETIN 27 Desember 12 nm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Dit is onwaarskynlik dat Suid-Afrika teen Junie van die gryslys verwyder sal word
# Tennis: Djokovic soek nog Grand Slam-glorie
# En, meer as een-duisend-360 babas is op Kersdag gebore
# Dit is onwaarskynlik dat Suid-Afrika teen Junie volgende jaar van die Finansiële Aksietaakmag se gryslys verwyder sal word, maar indien die vordering voortduur, is Oktober ‘n meer haalbare teiken. Ontleders sê hoewel die land aansienlike vordering gemaak het met verskeie vereistes, is kwessies soos die identifisering van inligting oor voordelige eienaarskap en die vervolging van ingewikkelde finansiële misdade steeds uitdagings. News24 berig dis van kardinale belang om vinnig verwyder te word en beleggings te lok, veral omdat regstreekse buitelandse beleggings geraak word weens kommer oor nakoming.
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta bepleit kalmte en doen ‘n beroep op onderwysers om begrip te hê rakende die besluit om staatsamptenare se mediese-fonds-intekeningsfooi te verhoog met 13,4-persent. Hy bestempel dit as ‘n noodsaaklike stap om volhoubare gesondheidsorgvoorsiening vir sy lede te verseker. Makaneta sê die verhoging weerspieël ook die stygende koste van gesondheidsorg in Suid-Afrika, wat buite GEMS se beheer is:
# Sasol het sy gasuitvoer na Suid-Afrika beperk nadat hy sy Mosambiekse produksie verminder het om die mense en bates te beskerm. Kliënte is ingelig hy kan nie tans sy volle voorraad handhaaf nie. Die streek se grootste aluminium-smelter, South32 naby Maputo se hawe, het vroeër die maand die krag by sy produksiegeriewe verminder om grondstowwe te bewaar en bedryfsbestendigheid te handhaaf. Minstens 248 mense het gesterf in die toenemende onrus ná die verkiesing. Meer as een-duisend-500 gevangenes het Woensdag uit ‘n maksimum-sekerheids-gevangenis naby Maputo ontsnap, waartydens 33 gesterf het.
# Tennis: Novak Djokovic is vol vertroue hy kan nog Grand Slam-toernooie inpalm en wil die aanslag op die Australiese Ope begin. Die Serwiër begin hierdie week in Brisbane sy voorbereiding vir ‘n elfde titel en ‘n rekord 25ste Grand Slam-oorwinning. Dit is die eerste seisoen sedert die 37-jarige Djokovic begin speel het dat nie een van die sogenaamde Groot Drie aan die ander kant van die net sal wees nie. Djokovic sê hy voel fisies goed. Hy het nog een Grand Slam-titel nodig om Margaret Court se 24 te oortref.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 19-rand-56-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-974. Die prys van goud is twee-duisend-629-dollar-56-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 72-dollar-95-sent.
# En, die Departement van Gesondheid het aangekondig meer as een-duisend-360 babas is op Kersdag veilig gebore in die land se gesondheidsgeriewe. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê dit is sowat 300 minder babas vergeleke met die een-duisend-708 verlede jaar, en sowat 50 minder as in 2022. Mohale sê die aantal tienerma’s het ook afgeneem van 145 in 2023 tot net onder 90:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….