Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Fedhasa bemerk ‘n verbetering in die gasvryheidsbedryf
# ‘n Verdagte is aangekeer na die dood van ‘n vrou wat op ‘n moltrein in New York aan die brand gesteek is
# En, krieket: Joe Root keer terug na die eendagspel maar Ben Stokes gaan Engeland se toer na Indië en die Kampioenebeker misloop
# Die gasvryheidsvereniging Fedhasa bemerk ‘n opwaartse kurwe in die gasvryheidsbedryf terwyl talle mense tydens die feestyd vakansiebestemmings besoek. Die nasionale voorsitter, Rosemary Anderson, sonder verbeterings uit in Gauteng, Mpumalanga en Kaapstad met ‘n aansienlike toename in besprekings en toeristebedrywighede. Sy het aan die SABC gesê die ander provinsies het nog nie ten volle herstel na die vlakke voor Covid-19 nie:
Die minister van Toerisme, Patricia de Lille, is intussen besorg oor die styging in die koste van vakansies in Kaapstad. Die metro is bekend as ‘n luukse bestemming vir baie vakansiegangers, met verblyf wat nou glo tot 55-duisend-rand vir vyf nagte kos. De Lille het aan eNCA gesê die pryse is buite die bereik van die meeste Suid-Afrikaners:
# Die Save South Africa-burgerlike beweging sê Johannesburg Water se ontoereikende reaksie op die waterkrisis in die metro is kommerwekkend. Gauteng gaan die afgelope paar maande onder ‘n voortslepende waterkrisis gebuk. Rand Water se onlangse instandhoudingsprojek het verskeie gemeenskappe 86-uur lank sonder water gelaat. Lumkile Moshesh van die beweging sê die gebeure by Johannesburg Water, veral wat betref die toekenning van lang- en korttermynkontrakte vir die lewering van watertenkwaens, laat talle onbeantwoorde vrae.
# Die polisie in New York het ‘n verdagte aangekeer wat beskuldig word van die moord op ‘n vroulike moltreinpassasier nadat sy gisteroggend aan die brand gesteek is. Polisiekommissaris Jessica Tisch het die voorval beskryf as een van die wreedste, siekste misdade wat ‘n mens teenoor ‘n ander kan pleeg. Sy sê die verdagte en die slagoffer was albei op die trein by Stillwell-laan in Brooklyn toe die voorval gebeur het:
# Krieket: Joe Root is weer in Engeland se eendaggroep ingesluit vir die toer na Indië en die Internasionale Krieketraad se Kampioenebekertoernooi in Pakistan. Ben Stokes is egter uitgelaat weens ‘n besering. Root het in die Wêreldbekertoernooi in November verlede jaar laas vir Engeland witbalkrieket gespeel. Mark Wood is in die groep ingesluit nadat hy van ‘n regter-elmboog-besering herstel het. Die toer na Indië in Januarie en Februarie sluit vyf T20’s en drie eendagwedstryde in, met die Kampioenebekertoernooi in Februarie en Maart.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-32-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 23-rand-2-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-358-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-629-dollar-73-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-80-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….