Nuus 12:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Desember 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die registrasiesperdatum vir spazawinkels word verleng tot Februarie
# Krieket: Die Protea Vroue se kaptein word berispe omdat sy teëpraat in die toets teen Engeland
# En Tom Cruise is nou amptelik ‘n Amerikaanse Vlootheld
# Die regering het die sperdatum vir die registrasie vir spazawinkels en voedselafsetpunte verleng tot 28 Februarie. Ministers wat die tussendissiplinêre span oor voedseloordraagbare siektes en onwettige handel lei, het aan die media die vordering met die aksieplan uiteengesit, insluitend die sluiting van meer as ‘n duisend winkels wat nie aan die vereistes voldoen nie. Die minister vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, versoek ondernemings om te registreer en aan gesondheidsregulasies te voldoen om steeds handel te dryf:
# Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, waarsku Suid-Afrika beleef toenemende voorvalle van kubermisdaad en kuberaanvalle. Die aanvalle raak alle sektore van die ekonomie, wat insluit telekommunikasie, finansies en gesondheid. Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het in ‘n parlementêre antwoord onthul twee-duisend-679 gevalle van kubermisdaad is in twee jaar aangemeld, maar net 83 daarvan is verwys na die Nasionale Vervolgingsgesag. Ntshavheni sê die afgelope twee jaar was die ergste bedreiging losprys-aanvalle, in die privaat sowel as in die openbare sektor.
# ‘n Voormalige afrigter van die Wallabies-rugbyspan, radio-omroeper en toespraakskrywer van die gewese Australiese eerste minister Michael Fraser, het sy onskuld bepleit na sy eerste hofverskyning in Sydney op 34 aanklagte van onsedelike aanranding. Die 83-jarige Alan Jones, wat die nasionale span in die 1980’s afgerig het, is verlede maand in hegtenis geneem. Hy het na bewering tussen 2001 en 2019 tien seuns en mans onsedelik aangerand, van wie sommige net 17 was. Jones se prokureur sê hulle verwelkom ʼn jurie-verhoor sodat hy sy onskuld kan bewys.
# Krieket: Die kaptein van die Protea Vroue, Laura Wolvaardt, is ingevolge die gedragskode van die Internasionale Krieketraad berispe gedurende die toets teen Engeland wat gister in Bloemfontein geëindig het. Sy is daaraan skuldig bevind dat sy haar misnoeë te kenne gegee het nadat sy in Suid-Afrika se eerste beurt been-voor-paaltjie uitgegee is. Die IKR het een strafpunt by haar rekord gevoeg na haar eerste oortreding in 24 maande. Wolvaardt het die aanklag en die bevinding aanvaar, wat voorkom dat sy amptelik verhoor word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 104-duisend-288-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-642-dollar-93-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-27-sent per vat.
# En ten slotte: Die Amerikaanse Vloot se hoogste burgerlike verering is toegeken aan die Hollywood-akteur Tom Cruise vir sy uitstaande bydrae tot die Vloot en die Marinierskorps met Top Gun en ander flieks. Die minister verantwoordelik vir die Vloot, Carlos del Toro, het die toekenning vir Uitnemende Openbare Diens aan hom oorhandig. Die Vloot sê Cruise het openbare bewustheid en waardering verhoog vir sy hoogs-opgeleide personeel en die opofferings wat hulle maak. Die 62-jarige sê hy is trots om die buitengewone erkenning te kry:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….